Local newsNews

Wie gaan slaggate opvul as publiek nie mag nie?

Nou hoe gemaak, want ons munisipaliteite doen dit nie!

Die meeste munisipaliteite in Suid-Afrika het al bewys dat hulle glad nie in staat is om die paaie in hul gebiede in stand te hou nie. Die gevolg is ‘n magdom slaggate wat paaie onbegaanbaar maak en tot lewensgevaarlike ongelukke lei.

Marie Bothma van die Vaaldriehoek skryf:
Net my opinie… Vanoggend (9 Maart) sit ek en lees koerant. SKOOR wil korrupsie deeglik ondersoek by Eskom. Nou wonder ek, as mens kyk na al die ondersoeke wat alreeds gedoen is, al die fondse wat uitgegee word, hoekom aanhou ondersoeke instel as jy nie die uitkoms aanvaar nie?
Dit gaan my verstand te bowe dat geen aksie geneem word nie. Al wat gebeur is ons vra ‘n nuwe ondersoek aan want ons aanvaar nie die die vorige ondersoek nie. Kyk na die ondersoek van die staatskaping, openbare vervolging, Eskom, Phala Phala – om nie eers te praat oor die wapenskandaal in die Zuma-era nie.
Selfde met die munisipaliteite: Oudits word aangevra, administrasie word toegepas en wat gebeur? Niks. Die probleem leef net voort met die hoop dat mense hul fokus na iets anders sal skuif. En ja, dit gebeur want more se koerante fokus op iets nuut en die lewe gaan aan. Ek weet eintlik self baie min van al die probleme, weet net genoeg om te wonder hoe gaan dit ooit beter raak.
Ek leer my seun van kleins-af dat die lewe vol aksies en reaksies is. As jy goed doen, is daar ‘n goeie reaksie, en as jy sleg doen is daar ‘n slegte reaksie. En as die aksie sleg is moet jy regstellende aksie neem. En as die aksie goed is moet jy voortbouende aksie neem.
Maar wat se aksie neem ons staatspresident, ministers, LP’s en munisipaliteite?
Daar staan dit vandag op die voorblad van ‘n nasionale koerant: “Jan alleman mag nie slaggate regmaak nie”. Nou hoe gemaak, want Mnr. die Burgemeester, jou munisipaliteit doen dit nie!

Een van die talle slaggate op Suid-Afrika se paaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button