Local newsNews

‘Midvaal is besig is om die oorlog teen slaggate te wen!’

In sommige gevalle moes Midvaal grondpaaie volledig oorbou om dit weer begaanbaar te maak na die oorstromings, bv. Wilgestraat in Helderstrome.

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit
Ek is besonder opgewonde oor die vordering wat gemaak word met betrekking tot die regmaak van slaggate en grondpaaie in Midvaal. Die eerste kwartaal van elke jaar is tradisioneel problematies vir slaggate, skraap van paaie en sny van gras as gevolg van die reënseisoen.

Die afgelope drie jaar se besonder hoë reënvalsyfers het Midvaal op die agtervoet gesit met betrekking tot bg. dienslewering aangesien hierdie aktiwiteite nie kan plaasvind in die reën nie. Reën is noodgedwonge die hoof bydraende faktor en die primêre rede vir hierdie probleme, en derhalwe vererger die aangeleenthede soos die reën toeneem.

Die goeie nuus, en die MIDVAAL VERSKIL, is dat Midvaal besig is om die oorlog teen slaggate te wen. Agt spanne werk sewe dae per week, 365 dae per jaar aan slaggate in Midvaal. Ses van hierdie spanne volg die klagtesisteem se prioriteitslyste in wyke op en twee spanne gaan van wyk na wyk en maak alles reg wat hulle op afkom. As ons dus kyk na die eersgenoemde ses spanne se mandaat is dit moontlik hoekom slegs een of twee slaggate in ‘n straat soms herstel word en ander slaggate in die omgewing nie terselfdetyd herstel word nie.

Hierdie ses spanne se opdrag is om die klagtes wat verwysingsnommers het, te hanteer en af te handel. Die laasgenoemde twee spanne se mandaat is dan om ‘n wyk deur te werk en alles reg te maak van hoek tot kant. Dit kan natuurlik ‘n tydjie neem en beteken dat die spanne moontlik slegs elke drie tot vier maande by jou wyk sal kan uitkom. Slaggate word volgens streng spesifikasies reggemaak en wanneer dit voorkom of die herstelwerk nie hou nie, is dit die omliggende teer wat ingee en nie die herstelwerk van die oorspronklike slaggat nie. Dit beteken dat die paaie in geheel meer aandag nodig het en vir daardie rede poog Midvaal om meer aandag te gee aan die herseël van oppervlaktes en “fog spray” om meer degenerasie van die padoppervlakte te voorkom.

Nuwe tegnologie soos die Jet Patcher-slaggatherstelmasjien is ondersoek en demonstrasies is reeds aan die bestuur gedoen vir oorweging. Indien die aankoop van die tegnologie goedgekeur word, sal dit die slaggate se herstelproses radikaal bespoedig. Ek gee meer inligting oor hierdie tegnologie in opkomende rubrieke.
Talle grondpaaie is ook onlangs geskraap maar soos met slaggate die geval is, kry die paaie wat die ergste beskadig is eerste aandag voordat daar na die ander aanbeweeg word.

In sommige gevalle moes Midvaal grondpaaie volledig oorbou om dit weer begaanbaar te maak na die oorstromings, bv. Wilgestraat in Helderstrome. Waar nodig is materiaal ingery en vasgerol om die paaie op te bou en te versterk om ‘n langer lewenssiklus te verseker. Die regte helling en afvoerkanale vir reënwater is ook belangrik in die bouproses en die nodige kennis en oorsig is hier deurslaggewend. Addisionele kontrakteurs en skrapers is onlangs deur Midvaal bekom om hulle in hierdie proses by te staan. Gaan gerus na ons nuwe Facebookblad MIDVAAL SERVICE DELIVERY REPORT vir gereelde opdaterings oor dienslewering in Midvaal.

Onthou asseblief dat Gautrans verantwoordelik is vir provinsiale paaie soos die R82, R551 na Heidelberg, Jim Fouchéstraat, die Uitvlugtpad, Partystraat in Boltonwold, die R42 en R54 Vaaldampad, asook Joanstraat, Kareestraat in Daleside, Eikenhofpad, R557 Randvaalpad, Vischgatpad, Eatonstraat en Gordonstraat in Henley. Midvaal meld hierdie paaie weekliks by Gautrans aan en hou maandeliks in-sito vergaderings met hulle. Hierdie paaie kan ook self deur inwoners by Gautrans aangemeld word op die POTHOLEFIXGP toepassing op die Google Play Store.

Ons vra dat inwoners asseblief slaggate op Midvaalpaaie sal aanmeld op die MyMidvaalApp met foto’s en ‘n liggings-pin, sowel as die fisiese adres in die beskrywing van die klagte. Volg dan na ‘n week of twee met u wyksraadslid op deur die nodige verwysingsnommers te meld. Dit is ‘n spanpoging. Saam sal ons hierdie slaggatoorlog wen.
Midvaalgroete, Ph!l

Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

Raadsheer Phil Pretorius

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button