Ingrid Coleman (72) – dinamies en doelgerig
Voormalige Yskoriane sal haar onthou as die Suster by die mediese stasie, vandag is sy eienaar van haar eie besigheid.
VAALPARK. – Sy was op haar dag ‘n verpleegster, sekretaresse en die suster by die mediese stasie waar die manne en dames van die ou Yskor vir raad en mediese bystand aangeklop het. Sy is Ingrid Coleman.
Diep gelowig met ‘n doelgerigte vasberadenheid om alles te laat slaag wat sy aanpak.
In September 2001 was sy een van vele wat na nog ‘n transformasieproses afbetaal is.

As enkelouer met ‘n seun op universiteit en ‘n dogter in graad 10 wou sy benoud word, maar haar geloof het haar deurgedra.
Sy is die Donderdag afbetaal en het diselfde aand weer Jesaja 41:10 gekry waar daar staan: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou. Ek help jou. Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (1983 Vertaling).
Kort daarna het een van die groot kontrakteurs haar genader met ‘n voorstel dat sy ‘n beroepsgesondheid- en veiligheidbesigheid op die been moet bring. Ingrid en ‘n vriendin het toe Basadi Occupational Health vanuit ‘n huis in Vanderbijlpark begin.
Hulle het 2 April 2002 hul deure geopen en vandag, 21 jaar later, staan die besigheid nog sterk met vier eienaars waarvan twee direkteure is.
Ingrid is steeds aan die stuur van sake en op 72 dink sy nog nie eens aan aftree nie.

“‘n Mens moet besig bly en veral jou brein aan die gang hou. Ek geniet dit om met mense te werk en ek geniet my werk,” glimlag sy.
Ingrid is in Duitsland gebore maar haar ouers het in 1955 na Suid-Afrika verhuis en hul in Vanderbijlpark gevestig.
Hier het die klein Ingrid vinnig aangepas, Afrikaans geleer en haar skooljare in Laerskool Oospark en Transvalia deurgebring.
Na skool het sy haar verpleegopleiding gaan doen by die destydse H.F Verwoerd (vandag Pretoria Akademiese Hospitaal) in Pretoria, waarna sy ook in 1972 in kraam gespesialiseer het by die Boksburg/Benoni Hospitaal.
“Ek het ‘n hele paar jaar in Johannesburg gewoon en by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mediese Navorsing gewerk,” vertel sy.
In die laat 1970’s het sy egter ‘n aanbod gekry om as sekretaresse by ‘n maatskappy te begin.
“Hulle het my genader omdat ek Duits, Afrikaans en Engels magtig is. Wel, die salaris was amper dubbel, so ek het die geleentheid aangegryp.”
Vir die volgende dekade of wat het sy baie kennis en ervaring opgedoen wat sy later jare as direkteur en eienaar van haar eie besigheid kon inspan.
Na haar egskeiding het sy as enkelouer haar weer in Vanderbijlpark bevind waar sy by die destydse Yskor by hul nywerheidsbetrekkinge en later jare by die mediese stasie diens gedoen het.

Foto: Verskaf
Deur dit alles het haar geloof haar gedra. Ingrid is in 2011 weer getroud en sy en haar man woon in Vanderbijlpark.
Haar seun, Michael en sy gesin woon in Engeland en haar dogter in Australië. “Gelukkig kan mens video oproepe maak, want ek mis my vyf kleinkinders baie.”
Ouma kon darem al ‘n slag in Engeland en ‘n paar maal in Australië gaan kuier.
Haar man, Gavin het ook twee volwasse kinders en drie kleinkinders, so daar is darem kleingoed naby wat Ouma en Oupa kan bederf.
Teen haar kantoormuur pryk vele sertifikate, toekennings en ‘n honneursgraad van die voormalige PU vir CHO.
“In die middel 90’s het ek dit oorweeg om ‘n sielkundige te word. Die dat ek toe my honneursgraad in voltooi het, maar ek het nooit by my meestersgraad uitgekom nie,” lag sy lekker.
Ingrid werk al 54 jaar met mense en sê sy sal nie maklik ophou nie.
“Wat sal ek ook nou by die huis gaan maak? ‘n Mens kan ook net soveel hekel, brei en lees?” verklaar sy met ‘n breë glimlag.
Een ding is seker, haar besigheid is in goeie hande.
