Lasbrief uitgereik in R10m-bedrogsaak
Die beskuldigde se prokureur sê sy kon weens siekte nie haar hofverskyning bywoon nie.
VEREENIGING – ’n Lasbrief is Woensdagoggend vir Joane van de Gevel uitgereik nadat sy nie vir haar hofverskyning in die Vereeniging-landdroshof opgedaag het nie.
Van de Gevel word daarvan beskuldig dat sy bykans R10m by Martin Morgan Motors in Vereeniging verduister het. Sy het ongeveer ’n jaar lank as sekretaresse en boekhouer by die motorhandelaar gewerk.
Volgens die onderneming se eienaar het sy na bewering geld uit die onderneming se bankrekening na haar persoonlike bankrekeninge oorgeplaas en versuim om verskeie krediteure te betaal.
Haar regsverteenwoordiger, Muhammed Omar, het aan Vaalweekblad gesê dat Van de Gevel weens siekte nie die hofverrigtinge kon bywoon nie.
Hy het ook ’n mediese sertifikaat verskaf waarvolgens sy weens “maligne hipertensie en spanning” afgeboek is.
Volgens haar mediese sertifikaat is Van de Gevel weens “maligne hipertensie en spanning” afgeboek.
Omar het bevestig dat die lasbrief gemagtig is, maar dat die uitvoering daarvan tot Van de Gevel se volgende hofverskyning op 29 September teruggehou is.
Van de Gevel is reeds in 2022 in ’n afsonderlike saak aan diefstal skuldig bevind nadat sy tussen R940 000 en R961 000 by haar voormalige werkgewer, STAHL Crane Systems, gesteel het.
Sy is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie gedurende dié tydperk weer aan bedrog of diefstal skuldig bevind word nie.
Die opskortingstydperk was steeds van krag toe die beweerde verduistering by Martin Morgan Motors plaasgevind het.

