News

Hoe El Niño die Vaal kan raak

n Hittegolf is die kort, intense uitbarsting van hitte.

VANDERBIJLPARK – El Niño, droogte en ’n hittegolf word maklik in dieselfde asem genoem, maar dit is nie dieselfde ding nie. Vir inwoners van die Vaaldriehoek kan die verskil belangrik wees wanneer die warmer maande aanbreek.


El Niño is die groter weerpatroon. Dit ontwikkel in die tropiese Stille Oseaan wanneer see-oppervlaktemperature ongewoon warm word en atmosferiese sirkulasie verander. Die gevolge kan duisende kilometers verder gevoel word.


Die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) sê ’n sterk El Niño is tans besig om te ontwikkel en sal na verwagting gedurende Augustus tot Oktober verder versterk. Die patroon kan wêreldwyd warmer toestande en groot veranderinge in reënvalpatrone veroorsaak.


Vir Suid-Afrika is die belangrikste vraag wat met die somerreënval gebeur. El Niño word gewoonlik met droër toestande oor groot dele van Suid-Afrika se somerreënvalstreek verbind, hoewel dit nie elke keer tot droogte lei nie. SAWS waarsku ook dat El Niño slegs een van verskeie faktore is wat Suid-Afrika se reënval bepaal.


Droogte is weer iets anders. ’n Droogte ontwikkel wanneer daar oor ’n langer tydperk aansienlik minder reën as normaal val.

Die gevolge bou mettertyd op: grondvog neem af, gewasse en weiding word onder druk geplaas, riviere se vloei kan verminder en damme kry minder water wat inkom.


Dit beteken ’n enkele droë week of selfs ’n droë maand maak nie noodwendig ’n droogte nie.
En dan is daar die hittegolf.

Dit is ’n korter tydperk van buitengewone hitte. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens word ’n hittegolf vir ’n spesifieke gebied bepaal wanneer die maksimum temperatuur na verwagting minstens 5 °C bo die gemiddelde maksimum van die warmste maand is en dit vir minstens drie dae voortduur.


’n Sterk El Niño kan die kans op warmer toestande verhoog. ’n Droër seisoen kan die grond en plantegroei uitdroog. Wanneer ’n hittegolf dan toeslaan, kan mense, diere, gewasse en waterbronne reeds onder groter druk wees.


Vir die Vaal beteken dit dat inwoners nie net na die kwik moet kyk nie. Die groter vraag is wat oor die hele somer gebeur.


’n Paar baie warm dae is een ding. Maande van hoë temperature, laer reënval en toenemende waterverbruik is iets anders.


Die goeie nuus is dat die Vaal nie tans vanuit ’n onmiddellike waterskaarste begin nie. Dit gee die streek ’n belangrike buffer. Maar daardie buffer kan mettertyd kleiner word as die somerreën nie genoeg is om waterbronne aan te vul nie.


Vir inwoners beteken dit eenvoudige voorsorgmaatreëls: drink genoeg water tydens warm weer, beperk swaar fisieke inspanning gedurende die warmste deel van die dag, beskerm jouself teen die son en hou veral kinders, bejaardes en mense wat buite werk, dop.


El Niño is die groter klimaatpatroon. ’n Droogte is die moontlike langtermyngevolg van aanhoudende reëntekorte.

’n Hittegolf is die kort, intense uitbarsting van hitte.
En vir die Vaal kan die belangrikste vraag wees wat gebeur wanneer al drie faktore oor dieselfde somer begin saamwerk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button