Kyk op: Maansverduistering vroeg Vrydagoggend sigbaar
Vroegopstaners kan uitsien na ’n besonderse skouspel wanneer die maan byna heeltemal in die aarde se skadu verdwyn.
Suid-Afrikaanse sterrekykers sal vroeg Vrydagoggend, 28 Augustus, ’n besondere skouspel kan aanskou wanneer ’n diep gedeeltelike maansverduistering oor Suid-Afrika sigbaar is.
Volgens die bekende sterrekundige Willie Koorts sal die verduistering omstreeks 03:23 begin wanneer die maan die aarde se dowwe halfskadu binnegaan.
Die hoofskouspel begin omstreeks 04:33 wanneer die aarde se donkerder skadu oor die maan begin beweeg en groot dele daarvan ’n koperrooi kleur kan aanneem.
Die verduistering bereik kort ná 06:10 sy maksimum. Sowat 93% van die maan se deursnee sal dan deur die aarde se donker skadu bedek wees.
In die Vaaldriehoek sal die maan kort daarna, omstreeks 06:26, in die weste sak. Dit kan volgens Koorts besondere fotogeleenthede skep, mits die weer saamspeel en waarnemers ’n onbelemmerde uitsig op die westelike horison het.
Geen spesiale bril of toerusting is nodig om ’n maansverduistering veilig te besigtig nie. Verkykers of ’n kamera met ’n zoemlens kan egter die uitsig verbeter.