Caitie maak golwe in musiekwêreld
Caitie Rock (16) se musiekloopbaan is op vol spoed en haar ster skitter al hoe meer. Veels geluk met jou Afri-Indie Caitie!
MEYERTON – Daar doen sy dit weer… Caitie Rock het die toekenning vir Beste Pop Enkelsnit gewen vir Desember Dagbroom by die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings.

Die spog geleentheid het Woensdagaand by die AfriForum Teater in Pretoria plaasgevind. Groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, onder andere Jennifer Zamudio, Heinz Winkler, Amor Vittone en Bobby van Jaarsveld, het in die onderskeie kategorieë meegeding.
Caitie sê dit was ’n ongelooflike aand. “Dankie vir al my getroue ondersteuners.”
Hierdie is ‘n besondere jaar vir Caitie. Sy is benoem vir ‘n SACMAF toekenning as Female newcomer of the year. Dit is die jaarlikse Country-musiek toekennings en vind op 30 September plaas.

Sy is benoem vir die Ontbytsake glans toekenningsaand wat ook in September plaasvind. Alles is moontlik wat Sunette Bridges geskryf het is onder die Top 3 musiek video’s vir die BitterLekker Top 3 afdeling. Die nominasie was ‘n baie groot verrassing vir haar omdat die video teen baie bekende kunstenaars se enkelsnitte meegeding het.
Catie is ook deur die FAK Skryf’it-kompetisieorganiseerders genooi om die verhoog te deel met onder andere Elvis Blue, Eloff, Danie Reënwolf, Andriette en Pieter Smit. Sy gaan haar liedjie, Môreland, wat sy vir die FAK Skryf’it-kompetisie geskryf het sing. Môreland het onder die Top 10 geëindig uit 1150 inskrywings.