Ek sê maar net…
RUBRIEK - Joernaliste kan blykbaar toor en is veronderstel om harteloos perfek in alle opsigte te wees. Wel, dis wat party mense dink, maar ek is meer die Liewe Heksie-tipe.
RUBRIEK. – Joernaliste. Daar is mense wat ons met ‘n passie haat. Nugter alleen weet waarom. Joernaliste is ook maar net mense. Ons maak foute, ons probeer ons bes en doen ons werk.
Maar ja, na amper 60 jaar is daar steeds mense wat dink Vaalweekblad se joernaliste val onder die sensasie-soekende, hardvogtige, onsimpatike wesens wat hul in hul kop het oor verslaggewers.
Nou nie veel wat ek daaraan kan doen nie. Dan is daar die mense wat dink ons het towerkragte van formaat.
Kyk, kry tog net die joernalis op die toneel en hocus pocus, abra ka dabra die waterlek is weg, die straatligte werk en die riool stroom nie meer die erf vol nie.
Ek weet nou nie van my kollegas nie, maar my supermagte strek nie so ver nie. Ek kan oor ‘n probleem skryf, ek kan foto’s neem en ek kan by dieselfde nommers as enige ander een die probleem rapporteer, maar dit reg of weg toor, die kan ek nou nie.
Dink ek is meer die Liewe Heksie-tipe as ‘n propperse heks. Goeie en positiewe nuus is mos my forté en as ek iemand êrens kan laat lag, nog beter.
Nie dat ek nie ‘n donker kant het nie. Ons het mos maar almal. Myne kom uit as lesers op die koerant se bakkiesblad kommentaar lewer alvorens hul die berig gelees het.
Soos nou die anner dag. Skrywe ek daar oor die groot gat in Louis Trichardt-boulevard wat herstel is. So dankbaar ek kon goeie nuus bring.
Maar tipies Vanderbijljparker praat ek in die inleidende paragraaf van Louis Trichardt. Ek meen, hier in die dorp las ons maar bittermin die boulevard gedeelte by.
Wie het in allegeval so ‘n vreeslike ‘grend’ woord loop staan en uitdink vir ‘n doodgewone straat? Niks snaaks vir ons om te sê: “Ry in Louis Trichardt af tot jy Piet Retief kruis nie.”
Hier in die Vaal leef ons mos so half in ons eie wêreld. Vergeet soms dat daar dorpe in Suid-Afrika bestaan met die name Louis Trichardt en Piet Retief.
Alhoewel, beide se name het ook intussen verander na Makhado en eMkhondo, maar dit nou daar gelaat.
Toe ek nou so van Louis Trichardt en die groot watergat praat in die inleiding, spring daar ‘n tannie vanuit die niet op.
Sy reken toe ek skryf misleidende opskrifte en artikels en “weet die dane (dink sy het bedoel dame, ek hoop!) wat die verslag geskryf het, hoe ver is LTT (dis nou Louis Trichardt) van julle af?” Met allerande prentjies en dinge.
Kyk, toe ref my bloeddruk en Bruinette-humeur sommer so tegelyk in die rooi en ek beduie vir haar daar op my beste Afrikaans dat die Vaalweekblad ‘n plaaslike koerant is en dat ons mense wat hier bly baie goed weet waar is Louis-Trichardt.
Net jammer ek was op daardie stadium ingeteken onder Vaalweekblad, want ek wou haar eintlik onder my eie naam vasvat.
Soos die ander keer wat ek ‘n rubriek gepleeg het oor my dae wat ek as bankklerk diens gedoen het, vele dekades gelede.
Tong in die kies soos gewoonlik en bitter eerlik dat ek by verre een van die minder goeie tellers op my dag was.
Sal daar toe nie wraggies ‘n vrou my aanvat daaroor nie? En toe ek vir haar sê dalk moet sy net weer mooi gaan lees, toe antwoord sy “miskien moet ek die moeite doen om die artikel te lees!”
Dit het my sprakeloos gelaat, synde dat ek die skrywer was, maar gelukkig het ‘n kollega ingegryp en mooi verduidelik dat hy seker is ek het die artikel gelees, terwyl my naam nou daar by die ‘byline’ pryk.
Praat nie eens van die vrou wat daarop aangedring het dat ek my skoolgeld gaan terugvra omdat ek van die Uniegeboue in plaas van die Uniegebou geskryf het nie.
Ek wou haar raad volg, maar toe kom ek agter meeste van my onderwysers en die skoolhoof het al afgetree, toe los ek dit maar weer. Sela!
