Local newsNews

Transvalia se klas van 1973 kuier na 50 jaar weer saam

"Ons benoude ou groepie standerd sessies wat in 1969 aangemeld het en die skool in 1973 vol drome verlaat het, is nou na 50 jaar rustig en tevrede."

 

Die Hoërskool Transvalia se matrikulante van 1973 het verlede maand ‘n hele naweek lank saamgekuier om na 50 jaar weer ou vriendskapsbande op te tel. Uit die uithoeke van die land – Boksburg, Johannesburg, Pretoria, Kroonstad, Bethlehem, Sabie, Tzaneen, Natal, Danabaai, Hermanus en Namibië – het hulle na Vanderbijlpark gereis vir ‘n onvergeetlike fees. Een oudmatrikulant het selfs spesiaal uit Nederland gekom.
“Op ons ouderdom van 66, 67 jaar is ons al deur lief en leed en het ons verdiep om nou te besef hoe gou die lewe verbygaan. Covid het ons matriekgroep wakker geskud om kontak te wil maak met mekaar, want wie weet wat voorlê? Ons het elke sekonde van die reünie geniet,” sê Gré (Regtien) Edelkraut, een van die organiseerders.
Danksy die destydse hoofseun, Theo Venter (deesdae ‘n landwyd-bekende professor) is daar gedurende die reünie per Skype kontak gemaak met ou skoolmaats in Australië en Kanada. Die hoofmeisie van 1973, Hannelie J. van Vuuren, en onderhoofseun Louis Bierman was ook onder die sowat 50 reüniegangers en wederhelftes wat die naweek in Vanderbijlpark deurgebring het.
Die Groot Kuier het die Vrydagaand by Horse & River Restaurant naby Transvalia begin en is die Saterdagoggend in die skool se destyds “verbode” personeelkamer voortgesit. Oudskoolmaat Ian de Beer het van sy eie gedigte voorgelees, Dirk Fisher het kitaar gespeel en sy eie liedjie gesing, en André van Tonder het die ou maters meegevoer met sy Bosoorlog-vertelling. Die naweek is die Sondagoggend afgerond met ‘n ontbyt en laaste saamkuier by Memories Restaurant.
“Dis ongelooflik hoe vinnig die maters – nou gryser en wyser – weer bande opgetel en raakpunte ontdek het. Herinneringe, goed en sleg, is opgediep en nuwe bande geknoop,” sê Kobie Ströh, een van die organiseerders wat hard gewerk het om die ou skoolmaats op te spoor en byeen te bring.
“Ons benoude ou groepie standerd sessies wat in 1969 aangemeld het en die skool in 1973 vol drome verlaat het, is nou na 50 jaar rustig en tevrede.
“Hartseer, die lysie name van maats wat nie meer met ons is nie. Dankbaarheid vir die spesiale tyd wat ons nog gegun word. Dankbaar vir so ‘n besonderse geleentheid. Verbasend dat ‘n skool so ‘n geweldige invloed op elke mens se vorming het. Selfs die skoollied word nog onthou.
“Ons moes die Sondag traag afskeid neem van mekaar. Ons besef elke dag is kosbaar. Ons moet tyd koester. Ons moet mekaar koester. Dankie, Hoërskool Transvalia, vir die geleentheid om by die skool te kon kuier. Ons kon almal met trots terugstuur huis toe. Transvalia is steeds ‘n netjiese pragskool,” sê Kobie.
* Nog stories en foto’s oor die 1973 Matriekklas by hierdie skakel: https://www.facebook.com/groups/172782688866967

Dirk Fischer sing en speel kitaar in die personeelkamer.
‘n Kruis met name van ou skoolmaats wat reeds oorlede is.
Prof. Theo Venter, 1973 se hoofseun, kyk toe terwyl twee reüniegangers ontmoet.

Rita Wasserman – Nog kosbare terugvoer uit Tzaneen:

Ek sit vanmiddag weer op die plaasstoep en besef n hele week het alweer verbygesnel –
Deur die week het ek kort kort n spesiale koesteroomblik van die reünie van die onthou-rak gaan afhaal en dan sommer net myself toegelaat om die “toe” en die “nou” op een bladsy in my “memory-boks” te plaas vir die eensaam-dae van “onthou jy nog”.

N Tyd gelede toe ek my faceboekblad oopmaak en besef dit is die jaar waarin ek matriek geskryf het -en dank vader met die eerste probeerslag deurgekom het -en daar was al n reünie sonder my -en daar gaan weer een wees in 2023- daardie dag het ek op die pad van onthou begin stap.

Die meeste van die gesiggies op die matriekfoto was totaal onbekend en ek moes weer en weer seker maak of dit regtig my matriekgroep was-so hier en daar het ek iemand amper herken maar moes selfs myself in die foto gaan soek.

My hartseer was groot toe ek my blonde hartsvriendin -wat vanaf Graad 1 tot matriek my geheime gedeel het, neffens my sien staan en weet …. Sy sal nie die matriekreünie van 2023 met ons deel nie -haar naam is op die kruis agter die kersvlam en ek kon opnuut n wyle daar vertoef tydens die reünie. So kon ons ook die hartseer van ons ander verstaan en deel.

Die Vrydagaand van die reünie -ek het die heel week gewonder oor die uitrusting vir die aand-
Sal dit gepas wees as manlief sy kerkpak en das aantrek -die pak is so bietjie oud -hy het dit laas aangehad met my oudste dogter se troue so 10 jaar gelede maar dit hang darem nog in die kas!
En ekke…
Daardie crimpelene rokkie wat so 6 duim bokant my kniee sit -sal die pienk geskik wees vir die byeenkoms en die perskepitte die sykouse die heel aand kan bo hou.
My skoonsus het een van daardie klein ronde hoedjies wat soos n pot lyk by die ouetehuis gaan leen want hierdie byeenkoms is darem n grend affere en sommige van die ouens wat daar gaan wees is mos professors en sommige het n paar grade-ek wil regtig niemand in die verleentheid stel nie!

Ek maak my die heel middag mooi en sukkel om my hare in n bolla geskik vir die hoedjie, te laat “style”.

Maar toe ek my verskyning maak – na al my moeite -gereed vir die grend affere -kry my manlief so n snaakse uitdrukking op sy gesig en hy is sowaar nog gladnie aangetrek vir die geleentheid nie-julle sal nie glo nie -hy het sy jeans en n informele hemp aan!!!
Hy steek net daar in sy spore vas en vra: “Gaan jy so??”
Toe ek bevestigend antwoord dat ek net reg is vir die geleentheid van die jaar -kan julle glo! Hy jaag my terug en se ek moet ordentlik gaan aantrek!!
Ai, sommige mans!!

Met die gevolg -ons is laat vir die byeenkoms!

Met die inloopslag soek ek na vreemde mense wat so oud soos ek is, maar uiteindelik kry ek n groep wat nog oefen om oud te wees en toe begin die kuier!!

Was dit nie lekker om vir manlief te wys dat een van my “favourites” -sy voorletters was op my penneblikkie geskryf-Kas Nel -die mooiste vroutjie aan sy sy het en hulle binne koffiewater se kook afstand van ons bly nie.

Theo se vroulief, Thilde is nog ouliker as wat ek op die fotos waar ek gaan “spy” het kon sien -en so het die rondomtalie van heerlike onthou en nuwe ervaringe deur die loop van die aand ontvou.

Name en gesigte en jare se vergeet het verdoof en n nuwe hoofstuk van saamwees en deel het ge open.

Ons wat van die plaas afkom se kersies het vroeg al uitgebrand en ons het gaan inkruip met sterre in ons oe vir die kuier van die volgende dag.

Transvalia….. die skool …. Jare het ek my kinders daar af en opgelaai maar skielik het dit hierdie keer n nostalgie in my wakker gemaak van onthou …

Ek en manlief stap nou nie daar in vir n ouer-aand nie maar om nuwe bande te smee van vriendskappe wat ek as voortvarende tiener as onbelangrik agtergelaat het.

Gedurende die middag-aand van die reünie word die kuier n familie aangeleentheid en te kort om al die kuier in te pas.

Die talente van skoolmaats is n verrassing en ek besef dat soos die Psalmis sê: ”my meetsnoere het in mooi plekke geval”.

Wat n wonderlike voorreg was dit nie – n kuier wat eintlik tydens 1973 se matriekafskeid kon gebeur – het uiteindelik 50 jaar later plaasgevind met matrieks wat deur die eb en vloedgetye van die lewe gelouter is om mekaar te kan waardeer en saam hul lewensmaats te kan geniet!

Sien ons nie erg uit na die volgende kuier nie!
Rita Wasserman

Gré Edelkraut deel ‘n humoristiese oomblik met ‘n mede-reünieganger.
Die klas van 1973 saam met hul wederhelftes.
Oudpersoneel van Transvalia, mnre. Beneke en Dreyer wat albei Wiskunde aangebied het, het die klas van 1973 ook met hul teenwoordigheid verras. Hier is hulle saam met hul wederhelftes.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button