News

Soektog na vermiste dominee duur voort

Die polisie se watervleuel, soekhonde en lede van die privaatsekuriteitsfirma Sekuriteit Sonder Grense is by die soektog na die vermiste ds. Hennie Louw betrokke.

VEREENIGING – Die soektog na die vermiste dominee Hendrik Fredrick “Hennie” Louw (56) duur in die omgewing van die R59-brug oor die Vaalrivier voort.

Louw se verlate voertuig is vroeër op dié brug, wat Vereeniging en Sasolburg verbind, gevind.

Verskeie lesers het sedert die publikasie van die aanvanklike berig navraag gedoen oor presies watter brug ter sprake is.

Die brug oor die Vaalrivier op die R59, waar Louw se voertuig gevind is. Foto: Sekuriteit Sonder Grense
Dominee Hennie Louw. Foto: Verskaf

Personeel van Sekuriteit Sonder Grense het lede van die Gautengse polisie se water- en duikeenheid met die soektog bygestaan. Honde is volgens videomateriaal ook tydens die operasie gebruik.

Ricus Potgieter van Sekuriteit Sonder Grense sê in die video dit is vir die organisasie ’n voorreg om saam met die polisie aan die operasie deel te neem.

Polisieduikers op die toneel. Foto: Sekuriteit Sonder Grense
Polisiehonde word ook in die soektog na die vermiste ds. Hennie Louw ingespan. Foto: Christiaan Cloete

“Die vaardigheid en toewyding wat vandag hier te sien is, is skaars. Ons is trots om saam met hierdie elitelede te werk,” sê Potgieter.

Volgens Sekuriteit Sonder Grense is niks tydens Woensdag se soektog gevind nie, maar die soektog duur voort.

Die soektog langs die Vaalrivier duur voort. Foto: Sekuriteit Sonder Grense
Polisieduikers fynkam die toneel. Foto: Sekuriteit Sonder Grense

Louw, ’n predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, word sedert Dinsdagoggend, 25 Augustus, vermis.

Volgens beskikbare inligting het hy sy seun omstreeks 07:00 by die skool afgelaai voordat sy voertuig later verlate aangetref is.

Louw het groen oë en gryserige hare. Hy weeg ongeveer 100 kg en het ’n gemiddelde liggaamsbou.

Enigiemand wat Louw gesien het of oor inligting beskik wat kan help om hom op te spoor, word versoek om die Vereeniging-polisie by 016 450 2262 te kontak.

Inligting kan ook met behulp van die MySAPS-app deurgegee of by Crime Stop by 08600 10111 aangemeld word.

Die water van die Vaalrivier word gefynkam in die soektog na die vermiste ds. Hennie Louw. Foto: Sekuriteit Sonder Grense

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button