Local newsNewsNews

President’s Award vir plaaslike jeug

Jong Valies vereer vir hul gemeenskapsdiens en harde werk.

VANDERBIJLPARK. – Drie van die Vaaldriehoek se jonger garde het onlangs hul sertifikate van die President’s Award of South Africa ontvang.

Die sertifikate word deur die President van Suid-Afrika, mnr. Cyril Ramaphosa onderteken.

Dié Suid-Afrikaanse jeugontwikkelingsprogram is gekoppel aan die internasionale Duke of Edinburgh Award.

Annerine Wenhold van Kairos Jeug sê hulle het in 2017 begin met ‘n paar plaaslike studente om hul te begelei om vir die toekennings te kwalifiseer.

Met die jare het Kairos Jeug ook na ander provinsies uitgebrei. Die President’s Award of South Africa bied aan jongmense tussen 14 en 19 jaar die geleentheid om in verskillende areas betrokke te raak en te groei.

Die studente kan op hul eie tyd die brons, silwer en goudvlakke voltooi.

In elke vlak moet daar aan sekere vereistes voldoen word in vier hoofkategorieë, naamlik dienswerk, vaardigheid (wat onder andere musiek, sport en drama insluit), fisiese aktiwiteit en avontuur.

Met elke vlak word die moeilikheidsgraad meer en word daar meer ure dienswerk van die studente vereis.

Annerine sê die program bied blootstelling aan studente aan vreemde omgewings en stel hul bloot aan aktiwiteite waaraan hul normaalweg nie sou deelneem nie.

“Ons kry hul bietjie uit hul gemaksones en dis wonderlik om te sien hoe elke individu groei en ontwikkel. Die program help ook baie om ‘n positiewe selfbeeld en selvertroue by die studente te vestig.”

Deur Kairos Jeug word daar ook op avontuurkampe gegaan waar die studente alles kan doen – van stap tot ‘absailing’.

Later vanjaar gaan hulle ook by ‘n wildsentrum diens doen waar hul vir ‘n paar dae gaan help om na die renosters en roofvoëls om te sien.

“Hierdie is ‘n opbouende projek wat baie vir die studente beteken. Dis ook goed om te weet dat dit deel is van ‘n internasionale program wat in 130 lande toegepas word,” sê  Annerine.

Die drie studente van Vanderbijlpark wat onlangs hul sertifikate vir voltooide vlakke ontvang het is Liné van den Berg, Anri Wenhold en Daniël Wenhold.

Vir meer inligting kontak Annerine by 078 459 1656 of besoek die Facebookblad, Kairos Youth – A President’s Award Unit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button