Local newsNews

Rugby, so bietjie krieket en nog rugby

Janko de Lange is 'n leier, kan sy man op die verhoog staan en akademies vaar hy goed, maar sy groot liefde is die ovaalbal op die rugbyveld.

VANDERBIJLPARK – “2026 is ʼn jaar van nuwe dinge, uitdagings en avonture.” Dit was Janko de Lange, Laerskool DF Malherbe se hoofseun vir 2026 se woorde aan die begin van die jaar.

Dit was deel van ʼn video wat die hoofleiers gemaak het om die ander leerders te inspireer en te motiveer om DF se tema vir die jaar, die spore wat jy nalaat, uit te leef.

Janko het sy eie woorde ter harte geneem en groot gegaan dié jaar. Soos hy elke jaar doen. Van drama tot by sport, Janko het alles gegee en is een van die top akademiese leerders in graad 7.

Janko de Lange met sy Valke spandrag. Foto: Laerskool DF Malherbe/Facebook

Sy lekkerste lekker is rugby en hierdie jaar het hy weer op die veld geskitter. Nie dat hy en rugby dadelik van mekaar gehou het nie. Hy het in graad R begin om mini-rugby te speel, maar “nadat ek die eerste keer getackle is, wou ek nie meer speel nie.”

In graad 3 het hy weer probeer en van toe af is daar aan hom geen keer nie. Hy het  vanjaar vir die IPT Valke se o13-span uitgedraf. Oor dié rugbytoer en toernooi saam met sy Valke-spanmaats kan hy nie uitgepraat raak nie. “Ek is baie trots op my span. Ons het goed gedoen. Ek het baie vriende gemaak,” vertel hy.

Die jongman is vaardig in omtrent elke agterlyn posisie. In 2026 het hy alles van binnesenter, tot heelagter en losskakel gespeel. “Ek is ʼn utility back. Solank ek net speel, dan is ek bly.”

Hy  speel ook krieket en het al sy hand aan gholf gewaag. “Ek is te sleg met gholf, ek slaan al die balle weg,” lag hy.

Een ding is verseker, Janko het diep spore by Laerskool DF Malherbe getrap. Volgende jaar wag daar vir hom nuwe avonture en uitdagings by Hoërskool Transvalia en as jy hom soek, sal hy waarskynlik op die rugbyveld wees.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button