Local newsNewsNews

Marita straal – jaar na stamseloorplanting

Kuier saam met ons by Marita Seyffert 'n jaar na haar lewensveranderende stamseloorplanting.

VANDERBIJLPARK. – In Maart 2022 het ek die eerste keer met Marita Seyffert gesels. Telefonies, want op daardie stadium was haar immuniteit baie laag.

Sy was in ‘n rolstoel gekluister en het slegs beweging in haar arms gehad. Alles weens veelvuldige sklerose, of MS soos dit bekend staan.

Dit was kort voordat sy vir ‘n stamseloorplanting moes gaan. Haar eie stamselle is geoes en daarna is haar immuniteitstelsel deur chemoterapie vernietig, alvorens sy nuwe stamselle ontvang het.

Marita kort nadat sy verlede jaar uit die hospitaal ontslaan is. Foto: verskaf

Medici het haar voorberei op ‘n baie lang herstelproses, waarvan sy ‘n groot gedeelte in isolasie in die hospitaal moes deurbring.

Sy het egter almal verras. Drie dae na die chemoterapie kon sy reeds haar bene beweeg en uiteindelik is sy na drie weke in plaas van die normale ses weke ontslaan.

Net bietjie meer as ‘n jaar na die stamseloorplanting kon ons oor ‘n beker koffie oor haar vordering gesels.

“Dit gaan baie goed,” vertel sy met stralende oë en ‘n breë glimlag. “Ek was weer in Januarie by die neuroloog en hy het vir my gesê: ‘Drink vitamiene D en leef”. Ek gaan hom nou eers weer volgende jaar sien.”

Haar MRI skandering hierdie jaar het die spesialis verstom. ‘n Stamseloorplanting se grootste doel is om die agressiwiteit van MS te stop, maar in Marita se geval is die kolle op haar brein kleiner en dowwer.

Sy kan ook nou weer loop, bestuur en al die normale dinge doen soos wasgoed was.

“Verlede week het ek my dogters elke dag Edenvale toe en terug gevat vir netbalwedstryde. Ek was so dankbaar ek kon dit doen,” vertel sy.

Marita onthou die dag wat sy uit die hospitaal ontslaan is. “Ek het dadelik kaalvoet op die gras gaan sit en vir my man, Johan, gesê ek wil met my voete in die modder sit.”

Twee weke nadat sy ontslaan is, is die gesin vir die eerste keer vir ‘n naweek Marloth Park toe. Haar loopkarretjie was ingepak, maar toe hul daar kom het sy besef daar is oral trappies.

“Ek het ‘n keuse gehad, of ek sit heeldag op een plek, of ek gryp my kruk en loop.”

Sy het met haar kruk begin loop en van daardie dag af was daar geen keer aan haar nie.

Nou se dae bestuur sy ‘n besigheid van haar huis af en is ook doenig met liefdadigheidswerk.

Die gesin is dankbaar almal is gesond en bymekaar. Foto: verskaf

Sy hekel komberse vir ‘n kinderhuis en het ook al verskeie kere as spreker by damestees opgetree.

“Ek is dankbaar ek het geen permanente skade in my bene oorgehou nie. Ek kan weer loop en beweeg. Ek is die Here se wonderwerk,” glimlag sy.

“Ek mag nou wel nie gaan valskermspring nie,” sug sy. “Dis iets wat ek altyd wou doen, maar die adrenalien verhoog jou bloeddruk en mag dalk weer ‘n sneller vir die MS wees. Nou gaan my kinders maar aan die einde van die jaar namens my spring,” beduie sy.

Sy is ook verlig dat sy nie weer vir al die inentings hoef te gaan wat mens van babadae kry nie.

“Omdat jou immuniteit vernietig word voordat die nuwe stamselle teruggeplaas word, moet mense gewoonlik weer al die inentings kry. Hulle het my teenliggaampies getoets en ek is steeds immuun teen al die siektes waarvoor ek ingeënt was.”

Om haar jaar van genesing te vier, gaan die gesin eersdaags weer ‘n draai in Marloth Park maak en die keer gaan sy nie eens ‘n kruk nodig hê nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button