Liewe Heksie kom visvang in die Vaal
Levinia Heks ook bekend as Liewe Heksie kuier weer eersdaags in Sasolburg. Sy het self meer vertel.
SASOLBURG. – Levinia Heks, beter bekend as Liewe Heksie is weer 7 Mei by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg te sien.
Sy het in ‘n telefoniese onderhoud gesê: “Ek is so opgewonde om weer na die Ettie toe te gaan.
“Selfs my besem hop al op en af van opgewondenheid. Julle het ‘n fantastiese teater. Dis so mooi en lekker daar. Ek onthou laasjaar het ek ook by julle gekuier.”

Dit klink of daar probleme in Blommeland is met visse wat wegraak. Heksie het my vertroulik oor die foon vertel: “Die koning hou ‘n visvangkompetisie. Ons moet vrotvelle vang, want die visse in sy rivier is skielik weg.
“Ek dink die ou Pers Heks het iets daarmee te doen. Ek het nie ‘n visstok nie, maar my besem werk goed om mee vis te vang.”
Volgens Heksie het Blommie haar geleer van visvang en dat mens moet fluister as jy daar is.
“Anders maak mens die visse wakker. Het jy al gesien hoe gaap hulle as jy hulle uit die water haal? Hulle is altyd moeg. Koning Roseperd is baie kwaad oor sy visse wegraak.”
Alhoewel Mattewis haar kat baie graag sou wou saamkom, sê Heksie hy moet liewer by die huis bly.
“Mattewis verstaan nie lekker van visvang nie. Hy gril so vir die visse en dan bewe hy te veel,” het sy verduidelik.
“Ek hoop ek sien julle almal by die Ettie. Ek kan nie daai teater se naam onthou nie. Dis te groot woorde,” het sy afgesluit, alvorens sy vir Margit Meyer-Rödenbeck geroep het om verder te kom gesels.
Margit het verduidelik dat Levinia weer bietjie vergeet het dis eintlik forelle en nie vrotvelle nie en natuurlik is dit Koning Rosekrans en nie Roseperd nie en die ou Persheks is eintlik die Geelheks.
Maar, nou ken ons darem ook al jare vir Levinia Heks, sy onthou nie name so goed nie, maar sy het ‘n goeie hart, al kan sy nie toor nie.
Liewe Heksie Vang Vis, met Margit as Levinia Heks en Deon van Zyl as die Geelheks, Karel Kat en Koning Rosekrans gaan weer oud en jonk aan hul voete hê.
Die vertoning begin om 14:00 en kaartjies is beskikbaar teen R120 per persoon by www.ertickets.com.
