Afbakeningsraad se stelsel foutief, inwoners sal vorms met hand moet invul
Inwoners wat aan die publieke deelname proses wil deelneem rakende die herafbakening van Drie Riviere Proper en Drie Riviere Oos, sodat dit by die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit heringedeel kan word, sal Saterdag (22 April 2023) fisies na die River Square-winkelsentrum moet gaan om hul vorms met die hand in te vul en in te dien.
VEREENIGING. – Die herafbakening sal behels dat die buurte van Drie Riviere Proper en Drie Riviere Oos, wat tans deel van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vorm, by die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit heringedeel sal word wanner die munisipale grense herafgebaken word.
Inwoners het net tot volgende week Woensdag (26 April 2023) om hul sê oor die kwessie te sê.
Talle inwoners wat vanoggend probeer het om die vorms in te vul kla dat hulle dit nie kon indien nie weens ‘n fout met die stelsel.
Dalene Venter, raadslid vir Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê sy het vanoggend met beamptes van die afbakeningsraad in Pretoria gepraat omdat mense kla hulle dit nie regkry om die aanlynvorms in te dien nie.
Volgens Venter het die afbakeningsraad bevestig dat daar wel ‘n probleem aan hulle kant is en dat hulle werk maak om dit uit te sorteer.
Venter sê: “Hulle het gesê hulle sal kyk daarna, maar die sluitingsdatum vir aansoeke is steeds 26 April.”
“Ons sal kopieë van die vorms maak en sal more in River Square ‘n tafel hê waar mense dit kan kom invul sodat ons dit Maandag (24 April 2023) kan courier sodat dit betyds ingedien kan word.
“Ons tafel sal daar wees van 09:00 tot 11:00.”




