Local newsNewsNews

Vrystaat se paaie sal R29 miljard kos om te herstel

Vaaldriehoekers kan ook oor die swak stand van die paaie getuig want die paaie in Sasolburg, asook 'n rit na Parys, Deneysville, Oranjeville of Vaaldam is 'n rit wat met slaggate besaai is.

Was dit nie vir AfriForum en Bring Hoop Vaaldriehoek wat gereeld inspring om paaie in en rondom Sasolburg te herstel nie, sou die paaie hier in ‘n nog slegter toestand gewees het.

Maar die groter prentjie dui daarop dat ‘n bedrag van sowat R29 miljard (om paaie in die Vrystaat te herstel) benodig word om die hele Vrystaat se paaie te red.

Dit is die antwoord wat aan die VF Plus gegee is deur die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer tydens ʼn portefeuljekomitee-vergadering.

Die totale begroting vir die Vrystaat beloop sowat R41 miljard – die herstel van die provinsie se paaie sal dus 70% van die totale begroting beslaan.

Armand Cloete, VF Plus-LPW: Vrystaat het in ‘n mediaverklaring gesêdit is onhaalbaar”.

“Hierdie departement se huidige begroting vir die komende finansiële jaar is R3,3 miljard wat aangewend moet word vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer.

“Voorts het die departement ook erken dat vyf padkontrakte tans deur regsprosesse beslis word. Die waarde van die projekte beloop meer as R98 miljoen.

“Dispute tussen kontrakteurs en die departement is tans sub judice. Intussen bly broodnodige herstelwerk aan paaie onafgehandel”.

Hy sê ook in die verklaring daar is verskeie eise vir skade en beserings van padgebruikers teen die departement weens die toestand van die Vrystaat se paaie. Die eise beloop meer as R65 miljoen.

“Die astronomiese bedrae wat die Vrystaat benodig om paaie ten volle te herstel, is die gevolg van byna drie dekades se wanbestuur, verkeerde begrotingsprioriteite, gefaalde swart ekonomiese bemagtiging en korrupsie onder die ANC-regering,” sê Cloete.

Die VF Plus het reeds skriftelike antwoorde van die departement ontvang oor watter kontrakteurs die afgelope vyf jaar aangestel is om paaie in die provinsie te bou en herstel ten einde die patroon van toekenning van kontrakte na te speur.

“Dit is duidelik dat die ANC nie daartoe in staat is om die agterstand ten opsigte van die herstel van paaie aan te spreek nie. Die enigste oplossing vir die provinsie se padkrisis is om van die ANC ontslae te raak,” sluit Cloete af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button