Local newsNewsNews

Zara baan die weg vir dienshonde in die Vaal

Ontmoet Pierre de Villiers en sy opgeleide dienshond, Zara.

VANDERBIJLPARK. – Zara is ‘n vier jaar oue Rottweiler. Vriendelik, geduldig en op haar pos. As opgeleide dienshond sorg sy dat sy altyd naby haar beste vriend en eienaar, Pierre de Villiers se rolstoel is.

Zara is opgelei om Pierre met verskeie take te help, van papiere optel en weggooi tot om geduldig nader te staan sodat hy teen haar kan stut, sou hy uit die rolstoel val.

Die twee is onafskeibaar. “Dienshonde word soos jou skaduwee,” verduidelik Pierre. Hy besit nie net een nie, hy lei ook dienshonde op volgens die Amerikaanse model.

Daar is ‘n besondere band tussen Pierre en Zara. Foto: Gerda Bruinette

“Ons honde gradueer met internasionale akkreditasie as Canine Good Citizens. Ek lei die eienaars op om hul eie honde af te rig.”

Volgens Pierre maak dit ‘n groot ver skil as die honde van hul babahonddae by dieselfde eienaar is.

Dan vorm die spesiale band reeds tussen hond en eienaar en leer hul om mekaar te ken en te vertrou. Hy glo glad nie aan hondeopleiding wat gepaard gaan met straf of wurgkettings nie.

“Ons werk daaraan om die band met die honde te vestig met hande vol liefde,” sê Pierre wat self al jare by hondeopleiding in die algemeen betrokke is.

“Ek het so baie by Petra du Toit geleer wat altyd die hondeskool gehad het en met die terapiehonde gewerk het.”

Pierre en sy vrou, Carin besit Happy Tails Dog Training Centre waar honde van hul babadae opleiding ontvang in algemene gehoorsaamheid en sosialisering.

Om diens honde op te lei verg egter baie meer werk. Dit vat amper twee jaar alvorens ‘n hond gegradueer het. Elke voornemende diens hond moet eers die brons, silwer en goue vlakke slaag alvorens hul kan gradueer.

Pierre sê bykans enige honderas kan as ‘n dienshond opgelei word. Elke hond word eers vooraf getoets om seker te maak hulle is nie bang nie en ook nie aggressief nie.

Die eerste 14 maande se opleiding behels om die hond te leer om gehoorsaam te wees. Dit word gedoen deur kos en ‘n kliekapparaat.

Daarna word die honde stelselmatig geleer om aan vreemde omgewings gewoond te raak en steeds hul aandag op hul eienaars te hou.

Dienshonde is werkshonde en hul weet as hul, hul diensbaadjies aan het moet hul al hul aandag aan hul eienaars gee. Daarom is dit belangrik dat die publiek nie aandag aan ‘n dienshond sal gee nie.

“Hou asseblief jou afstand en moenie met die honde praat of aan hul vat nie. Die honde is aan diens en moet gefokus bly,” beduie Pierre.

Hy sê dienshonde kan vir verskillende dienste ingespan word, byvoorbeeld om op te tel as hul eienaars te angstig raak of ‘n epileptiese aanval gaan kry.

Die honde word geleer om hul eienaars eenkant toe te lei en dan af te trek grond toe.

“Die honde word ook geleer om noodpersoneel by hul eienaars toe te laat sou dit nodig wees,” vertel Pierre.

Volgens hom is SuidAfrika ver agter Amerika wat die opleiding en aanvaarding van dienshonde betref.

“Ons ken eintlik net die gidshonde, maar honde kan vir soveel meer opgelei word om hul eienaars te help. Zara kan selfs kaste oop en toe maak.”

Dienshonde moet wanneer hul werk een van twee jassies dra, of een waarop staan “service dog” of “service dog in training.”

“Die enigste probleem met die groter honde is dat mense skrikkerig is vir hulle,” vertel Pierre, “maar die kanse is groter dat Zara jou sal soen as wat sy sal byt.”

Om meer te leer oor hondeopleidings klasse in die algemeen of die opleiding van dienshonde, kontak Carin by 082 394 0596.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button