KYK: Gesin verloor feitlik alles in huisbrand
'n Man is in die hospitaal opgeneem vir geringe beserings en rookinaseming en drie honde het doodgebrand toe 'n huis in Kowiestraat, Drie Riviere, Saterdagaand (22 April 2023) aan die brand geslaan het.
VEREENIGING. – Die Els-gesin van Kowiestraat sou Saterdag (22 April 2023) omstreeks 23:00 aansit vir aandete hulle rook geruik het.
Surina Els (50), wat saam met haar gesin in die huis bly, vertel: “Ons het klaar gebraai. Dit was so 23:00 se kant. Ons het ingekom. Ek het opgeskep, toe sê my seun, Janco Els (16), hy ruik rook.
“Toe Janco by Hennie (Mulder, die eienaar van die huis) se kamer kom toe sien hy die gordyne is aan die brand,” vertel Surina Els (50).
Surina se man, Jannie Els (47), het vir Mulder (49) van die bed af geruk en kon hom betyds by die huis uit dra.
Oomblikke later het die bed aan die brand geslaan.
“Ons het water gegooi, dit het gelyk of dit onder beheer is, maar toe vat dit weer vlam” vertel Surina.
Volgens Surina het hulle ongeveer ‘n uur en ‘n half vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se brandweer gewag.
“As hulle vroeër het was het ons bietjie meer gered,” vertel Surina.


Die Els-gesin het ook drie honde – ‘n pug en ‘n miniatuur fox terrier en laasgenoemde se baba hondjie – in die huisbrand verloor.
Die Els-gesin het saam in die huis, wat aan Hennie Mulder, behoort gebly.
Hulle bly tans in ‘n tent en ‘n karavaan op die perseel.
“Ons bly maar eers hier, want ons wil nie hê mense moet kom en die hele plek leeg dra nie,” vertel Surina.
Volgens Surina het hulle al die kinders se skoolklere, sowel as haar man se oorpakke in die huisbrand verloor.
Lede van die gemeenskap het reeds klere en ander noodsaaklikhede aan die Els-gesin geskenk.
Indien jy belangstel om te help kan jy vir Jannie Els by 078 379 6812 skakel.


