Hoof “gevang” en “bevry” op sy verjaardag
Veels geluk aan Laerskool Kollegepark se hoof, Coenie Herbst wat vandag verjaar. Lees meer hoe die skool die dag gevier het.
VANDERBIJLPARK. – 24 April is elke jaar ‘n belangrike datum vir Laerskool Kollegepark. Dan is dit hul hoof, Mnr Coenie Herbst se verjaardag.
Elke jaar word dit met styl gevier en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die skool het gewemel van “Cowboys” en “Indians” kompleet met pyle en boë en speelgoedgewere in die hand.
Teen 09:45 was daar ‘n geruis van die pawiljoen se kant af. Die hele skool het bankvas gesit en dit was ‘n bonte skare van Cowboy hoede en vere in die hare.
Voor die pawiljoen het hul gelukbringer, Kolbee gereed gestaan by die verjaardagkoek, geskenke en stoel spesiaal versier vir die verjaardagman.
Almal het in spanning gewag vir die hoof om sy verskyning te maak. Van die anderkant van die veld het hul geliefde meneer sy “cowboy-taxi”, ‘n ou wit perd bestyg.
Die leerders het stilgeraak, want die perd was bietjie senuweeagtig in die vreemde omgewing en niemand wou sien hoe hul hoof deur ‘n perd afgegooi word nie.
Naby die pawiljoen, is hul Mnr. Coenie volledig gekleed in ‘n cowboy-uitrusting met ‘n aangeplakte welige snor, van sy perd gedwing deur twee brawe “indiane” gewapen met pyl en boog.
Hy moes maar met hande in die lug verder stap. Dit was totdat twee dapper “cowboys” skielik van agter ‘n hooibaal hul verskyning gemaak het, en die hoof bevry het.

Die skare het wild geraak. Uiteindelik is daar orde herstel en kon die hoof sitplek inneem.
Na ‘n paar gevleulde woorde en ‘n seëngebed van ds. Johan Vrey het hoofdogter, Aibigail Pienaar ‘n groot geskenk namens die skool oorhandig.
Dit blyk toe ‘n tamaaie gholfstok te wees wat Mnr Coenie dadelik op die proef gestel het tot groot vermaak van die leerders.

Daarna is hy toegesing terwyl hy die kersies op die koek doodgeblaas het. Die diensspan is vorentoe geroep en saam met Mnr. Coenie het hul op die maat van ‘n paar liedjies lekker lyf geswaai.
Die skoolhoof het weer eens bewys hy is ‘n bok vir sports toe hy sy lange lyf op ‘n hobbelperdjie ingepas het.
Die oggend se verrigtinge is afgesluit met elke graad wat onder ‘n gazebo op die veld gaan sit het waar hul lekkernye kon geniet.
Mnr Coenie het van gazebo tot gazebo gegaan en by elkeen ‘n eetding of twee vir sy mandjie gekry en foto’s geneem.

Die leerders het die oggend baie geniet en Mnr Coenie moes bontstaan om by te hou met almal wat hom ‘n drukkie wou gee vir sy verjaardag.
Hy het al die leerders, personeel en ouers bedank wat die oggend moontlik gemaak het en vir sy geskenk. “Ek is lief vir julle. Julle is vir my goud werd,” het hy afgesluit.
