Van gesoute speurder tot traumaberader
Die ervare speurder het op 55-jarige ouderdom besluit om die loopbaanskuif van speurder na traumaberader te maak.
*Die storie het die eerste keer in die gedrukte Vaalweekblad (19 April – 21 April 2023) verskyn.
MEYETON. – Jestus Fouché (55), ‘n voormalige polisiekaptein en speurder, het ná ‘n loopbaan van meer as 35 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) besluit om die dossier op sy loopbaan as speurder toe te maak en ‘n splinternuwe hoofstuk te begin.
Fouché, wat die afgelope 21 jaar as speurder by die polisie werksaam is, is sedert verlede week ‘n traumaberader by die Kerk in die Mielielande.
@diestorie
As oud-polisieman het Jestus al baie gesien.
Hy het in die oë van monsters gekyk, ‘n verdagte teegekom wat ‘n mens kon slag soos ‘n dier.
Hy het ook met ‘n saak gewerk waar ‘n onskuldige egpaar op hul plaas met doringdraad vasgebind is en tereggestel is, ‘n kinderverkragter en moordenaar wat onwetend die bloed van sy slagoffer op sy tekkies rondgedra het en toe met daardie selfde skoene in Jestus se kantoor ingestap het, ‘n huurmoordenaar wat sonder om te skroom tydens ’n bekentenis kon sê ‘as daar ‘n hit op jou is, is jy al lankal dood. Vir jou voel ek f***l’.
Dan was daar ook die bobbejaanspanner wat Jestus opgespoor het nadat die verdagte dit gebruik het om ‘n bejaarde egpaar te vermoor en hy dit later verpand het.
Jestus was die man wat in die oë van monsters gekyk het sodat ander mense dit nie hoef te doen nie.
Ten spyte van al dié dinge wat Jestus al gesien en beleef het, het dié geharde speurder tog ‘n sagte plekkie vir mense.
Hy kry trane in sy oë wanneer hy praat oor een van die min sake wat hy in sy twee dekades as speurder nie kon oplos nie, ‘n saak wat tot vandag toe by hom spook.
‘n Sesjarige meisie wat wreed verkrag en toe vermoor is.
Die moordenaar het haar Tweety-skoene onder ‘n bos in ‘n veldjie weggesteek, maar Jestus het dit gekry voor hy dit as ‘n trofee kon neem.
Haar moordenaar het weggkom weens ‘n gebrek aan direkte bewyse wat hom met die moorde verbind, maar Jestus het ‘n goeie idee wie die moordenaar is.
Jestus Fouche by die Kerk tussen die Mielielande in Grensstraat tussen Drie Riviere en Meyerton, waar sy nuwe kantoor geleë is. Foto: Christiaan Cloete
Volgens Jestus het hy gedurende sy loopaan in die polisiediens deeltyds studeer en verskeie grade verwerf, onder andere in sielkunde, teologie en kriminolgie.
Dit is veral die sielkundeopleiding wat Jestus gedurende sy loopbaan as speurder gehelp het om te bepaal of verdagtes die waarheid praat tydens ondervraging en wanner hulle lieg.
Jestus se nuwe beroep, traumaberading, behels dat hy individue help wat ‘n traumatiese gebeurtenis of reeks gebeurtenisse ervaar het.
Die doel van traumaberading is om individue te help om hul traumatiese ervarings te verwerk, sodat hulle op ‘n gesonde en produktiewe manier vorentoe kan beweeg met hul lewens.
Jestus se eerstehandse ondervinding van die trauma wat misdaadslagoffers deurmaak, sowel as sy kennis van die strafregstelsel bring ‘n ander dimensie na die wêreld van traumaberading.
Jestus, wat al ‘n digbundel uitgebring het, oorweeg dit ook om eendag ‘n boek oor sy ervaringe in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te skryf.
Jestus is Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 08:00 tot 13:00 by sy kantoor by die Kerk tussen die Mielielande beskikbaar.
Indien jy met onverwerkte trauma worstel en belangstel in berading kan jy Jestus by 083 439 0697 skakel.


