Local newsNews

Oupa en Ouma speel in 2011 ooievaar toe baba te vroeg opdaag

Die baba van destyds het gister haar 12de verjaardag gevier

 

VANDERBIJLPARK. – Vaalweekblad van 11 Mei 2011 het berig oor die angswekkende minute wat ‘n oupa, mnr. Cornelius Havenga, moes deurgaan toe sy kleindogter op 25 April daardie jaar te vroeg haar opwagting gemaak het en hy self saam met sy vrou “ooievaar” moes speel! Die babatjie van destyds, Cameron, het gister (25 April 2023) haar 12de verjaardag gevier en het intussen ‘n pragtige jong tienertjie geword!
Haar ma, mev. Petro Wessels, het onlangs by Vaalweekblad aangeklop om die destydse berig oor Cameron se ongewone geboorte op te spoor omdat hulle die oorspronklike uitknipsel verloor het toe hulle getrek het.
Vaalweekblad het ongelukkig nie meer die destydse foto’s nie maar ons kon daarin slaag om die bewoording op te spoor. Ons plaas die destydse berig deur joernalis Izolde Pistorius dus weer hier onder:

Berig uit Vaalweekblad van 11 Mei 2011:
VANDERBIJLPARK. – ‘n Pa wat in 2009 sy eie seun (Cornelius) se naelstring geknip het toe sy vrou onverwags by die huis geboorte geskenk het, moes dit pas wéér doen (op 25 April 2011). Die verskil is net dat hy dié keer sy kleinkind moes help “vang”.
Volgens mnr. Cornelius Havenga en sy vrou, Marie, het hul seun Jacques se vrou Petro (27) op 25 April 2011 omstreeks 06:30 aan hul deur kom klop. Sy het gesê sy dink sy is in kraam. Die jong egpaar woon op dieselfde perseel as hul ouers.
“Ek het Petro gevra om solank op die bank in hul huis te gaan sit sodat ons die ambulans kon bel,” sê mev. Havenga.
“Die drukpyne het erger geword en Petro het op haar bed gaan lê. Sy het my kort daarna geroep en gesê sy dink daar is iets snaaks aan die gang.
“Ek het toe met ‘n skok agtergekom dat die baba reeds besig is om gebore te word. ‘n Mens kon al die koppie sien. Ek het inderhaas na my huis gehardloop en my hande gewas, waarna ek die baba se nekkie gestut het en vir Petro gesê het om te druk,” sê mev. Havenga.
Sy het daarna seker gemaak dat die baba se naelstring nie om haar nekkie is nie. Sy het haar dadelik op haar sy gedraai en liggies oor haar ruggie begin vryf.
“Sy het kort daarna begin huil en ek het toe geweet dat alles reg is,” sê mev. Havenga.
Mnr. Havenga het intussen skoenrieme gekry en terwyl sy vrou die nuwe aankomeling skoongemaak het, het hy die naelstring by sowel die ma as die baba met skoenrieme afgebind en dit geknip. Hulle het daarna die baba toegedraai en vir haar ma gegee.
Die ambulans het kort daarna opgedaag, die ma en baba ondersoek en die ma met die nageboorte gehelp. Ma en baba is daarna vir sowat vier ure in die Johan Heyns-kliniek opgeneem. Die dogtertjie het by geboorte 2,8 kilogram geweeg.
“Ons het ‘n paar angswekkende oomblikke beleef en is baie dankbaar dat alles goed afgeloop het en dat die ma en baba gesond is. Dit kon soveel anders gewees het,” sê die trotse oupa en ouma.
Volgens Petro het sy gedink dat haar baba eers teen Julie of Augustus gebore sou word.
“Ons het nog nie babaklere en ander bababenodigdhede gehad toe sy gebore is nie, maar danksy Vaalweekblad se sms-lyn waar ons die publiek om hulp gevra het, het ons baba nou alles wat sy nodig het. Ons wil almal bedank wat bygedra het,” sê Petro.
Volgens mnr. Havenga het hy en sy vrou reeds talle klein katjies en hondjies die lewe ingehelp. Dit het hulle ook gehelp toe hy twee jaar tevore sy eie seun se naelstring moes knip.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button