Local newsNewsNews

Will van Dyk – Probleemoplosser met hope geduld

VANDERBIJLPARK. - Will van Dyk of sommer net Will op die WhatsAppgroepe, is die een na wie almal met hul klagtes gaan.

VANDERBIJLPARK. – Nie almal kan die gesig plaas nie, maar vir die mense in Vanderbijlpark en selfs Drie Riviere se WhatsApp en Telegram klagtegroepe is die naam Will baie bekend.

Will van Dyk is die admin van 19 groepe. Hy is die een wat elke klagte oor alles, van waterlekke tot by elektrisiteitsprobleme aanspreek.

Met hope geduld, al vra die mense dieselfde goed oor en oor. Vir die mense in die CW en CE areas is hy die reddingsboei as dinge begin skeeftrek.

Will op die Carnival Spirit wat vanuit Sydney, Australië gevaar het. Foto: verskaf.

Wanneer Emfuleni nie by beurtkragskedules hou nie, of mense nie weet wanneer word die vuilgoedsakke opgetel nie, vra vir Will.

Hy sal wel die antwoord kry. Groet die krag in die middel van die nag, dan is hy eerste op die groepe om vir mense inligting deur te gee.

“Ek hou daarvan om ingelig te bly,” verduidelik hy. “Ek wou weet wat gaan in my omgewing aan en het by verskeie groepe op WhatsApp en Telegram aangesluit.

“Mettertyd het ek begin om kommentaar te lewer en te help waar ek kan. Dis maar hoe ek is, ek help graag.”

Dit was nie lank nie toe het die onderskeie groepeienaars sy potensiaal raakgesien en sy hulp gevra om die groepe te administreer.

“Ek bly in SE2 en het nie geweet wat gebeur aan die anderkant van die dorp nie. Nadat rdl. Piet Smith my genader het om te help op die CE & CW Reports Only groep, het ek vinnig die area en sy mense leer ken.”

Will het ‘n punt daarvan gemaak om kontakte te bou en mense te gaan sien en vandag weet hy hoe om blitsvinnig probleme te rapporteer en inligting te verkry.

“Ek het nog altyd van probleemoplossing gehou, om met mense te werk en hul te help,” sê hy en voeg dan by, “maar al die groepe het nou ‘n voltydse storie geword.”

Will het dit altyd geniet om troues en ander funksies te organiseer. Foto: verskaf

Hy doen alles sonder vergoeding uit die goedheid van sy hart. Will het in Vanderbijlpark grootgeword waar hy ‘n leerling aan Laerskool D.F Malherbe was alvorens hy in 1997 aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer het.

Na skool het hy hotelbestuur in Sandton gaan swot en na twee jaar ‘n beurs by die American Hospitality Academy bekom, waarna hy verder in Orlando gaan studeer en werk het.

Na sy studies het hy by verskeie hotelle in Johannesburg en in die Vaaldriehoek gewerk voordat hy besluit het om ‘n kontrak by Carnival Cruise Lines te aanvaar.

Dit was die begin van ‘n loopbaan op die skepe wat hy baie geniet het. Naas kosmaak was om te reis nog altyd ‘n groot passie en deur sy werk het hy ongeveer 47 lande besoek.

“Ek het by ontvangs op die skepe begin en uiteindelik afgetree op offisiersvlak,” sê hy.

Stories oor sy dae op die skepe het hy baie. “Ja, ek het ‘n paar Titanicoomblikke gehad. Daar was ‘n keer wat die enjins gefaal het en ons vir ‘n paar dae net gedryf het.”

Hy was ook op see gedurende ‘n orkaan of twee, onder andere Orkaan Katrina wat so amok gesaai het in New Orleans in 2005.

“Ons moes ook ‘n paar keer saam met die FBI werk omdat ‘n moord plaasgevind het. Mense besef dit nie, maar mense sterf ook op skepe, so daar is ‘n lykshuis aan boord. Ek moes menigmaal alles organiseer na iemand se afsterwe,” skud hy kop.

Naas sy skeepswerk het hy dit ook geniet om troues en konferensies te reël en te organiseer.

“Ek het die gawe om kalm te bly as ‘n trourok wegraak die dag voor die onthaal of daar is ‘n krisis wat uitgesorteer moet word. Maak nie saak wat gebeur nie, die funksie moet voortgaan.”

Alhoewel hy baie lande besoek het, bly Thailand die een plek waar hy die lekkerste vakansie gehou het. Dis nou naas die plaasvakansies wat hy en sy broer as kinders gehad het.

“Ek is steeds lief vir die plaaslewe en het onlangs weer bietjie weggebreek na my niggie se skaapplaas in Noordwes. Ek dink ek is maar ‘n plaaskind van hart,” glimlag hy.

Dan is hy ook lief vir enige plek met ‘n strand. “Dis waarom ek so baie van eksotiese plekke met mooi strande soos Thailand hou.”

Eendag beplan hy om weer van die lande te besoek waar hy al aan wal gestap het.

Tans is hy sy broerskinders se geliefde oom wat altyd help met huiswerk en mensepa vir sy Jack Russell en sy Foxterriër.

Die WhatsApp en Telegramgroepe hou hom van vroeg tot moeg besig. “Soms raak dit bietjie te veel, veral as die mense ons as admins uithaal en slegsê oor iets wat buite ons beheer is.

“Ons is almal vrywilligers wat wil help. Help nie jy sê ‘n admin sleg omdat jy vies is vir die munisipaliteit nie,” sug hy. Bygesê, ek geniet dit om te help, so ek sal nie sommer ophou nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button