Local newsNews

Die groot ‘K’ skok: Inwoner deel haar verhaal

'n Plaaslike inwoner het met Vaalweekblad gesels oor haar ervaring met die groot 'K' en alles wat daarmee saamgaan, en gee ook raad aan ander dames wat hul aan die begin van so 'n uitdaging bevind.

VANDERBIJPARK. – “Die beste van my bestraling is dat wanneer ek op die bed lê en my oë toemaak, praat ek met my Skepper. Ek bid dan sommer vir al die mense wat bestraling moet kry”.

Dit is hoe plaaslike inwoner, Elsje Lubbe haar ervaring met die groot ‘K’ en alles wat daarmee saamgaan, in ‘n opehartige onderhoud met Vaalweekblad gedeel het. In Augustus 2021 het mammogramtoetse ‘n knoppie in haar bors ontdek.

(Elsje verwys na haar kanker as die “knoppie” want haar pa het haar geleer “dat jy nooit ‘n siekte ‘n naam gee nie”).

Die onkoloog, dr. Rens, het haar dadelik begin behandel en ‘n jaar later het die knoppie aansienlik gekrimp. Die knoppie is in Desember verwyder en Elsje het met bestraling begin.

Ses weke lank moes sy elke dag, behalwe naweke, bestraling ontvang.

“Hoewel my dokter daardie dag toe die knoppie ontdek is, alles baie mooi aan my verduidelik het, het ek steeds baie groot geskrik en was baie emosioneel,” vertel Elsje.

Haar dogter was gelukkig saam met haar, en hoewel sy ook gehuil het, het sy haar ma dadelik ondersteun.

“Ek moes gedurende die tyd heelwat veranderinge aan my daaglikse bestaan doen. Ek mag nie parfuum aan my lyf spuit nie. Ek moes met aquas room bad en ek mag geen vitamines gebruik nie,” vertel Elsje.

Sy het haar uitdaging met ‘n positiewe gemoed aangepak. Sy het so normaal as moontlik probeer aangaan met haar lewe.

“As ek moeg raak moet ek bietjie gaan rus, en ek moet baie water drink wat ek oor die algemeen doen. Die hele proses het my baie nader aan my Skepper gebring. Ek het weer eens besef hoe groot God se genade is,” sê Elsje.

Haar eksta bietjie advies aan ander dames wat aan die begin van dieselfde beproewing staan is:

Bly positief en sterk in jou geloof, Gebruik die steun wat familie en vriende jul bied. Ek wens julle baie sterkte toe.

Kankervry! Elsje Lubbe lui die klok na sy klaar is met haar reeks bestraling.

* Elsje wil van die geleentheid gebruik maak om ‘n paar mense te bedank:

Dr. Zelda Ressouw en haar span vir hulle vriendelike en simpatieke ontvangs; Mediclinic se Onkologiese-afdeling – dr. Rens, dr. Person, dr. Du Plessis, Julana, Anne-Marry, Rene, Sandra, Hedri, Mia, Estelle, Jane, Amanda, Ntabiseng, Constance, Selina en Karien.

Dan die volgende het my familie geword tydens my bestraling: Precious, Noelien, Annesta, Sonia, Zanele, Sithemba, Kabelo, Ezaya en Jessica.

Ek wil vir julle almal baie dankie sê vir julle uitstekende werk. Ek en my sus het ‘n dame, Bokkie, haar dogter en kleindogter, daar ontmoet en hulle het ook baie diep in ons hart gekruip. Ons kon nie wag om elke dag daar te kom net om my hartsmense weer te sien nie.

In besonder ook my sussies Frieda en Joey. Ek is so geseënd om twee sulke wonderlike sussies te hê. Frieda dankie dat jy al jou verpligtinge opsy geskuif het om my elke dag na Vereeniging te neem vir bestraling.

Vir my man, kleinkinders, familie en vriende wil ek baie dankie sê vir julle liefde, gebede en omgee. Ek is so bevooreg om so baie hartsmense in my lewe te hê.

Elsje Lubbe (regs) saam met haar susters.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button