Local newsNewsNews

Loopbaan afgesluit op hoogtepunt – Vaalpark Primêr is tops

Gemengde gevoelens was die afgelope tyd aan die orde van die dag by die Vaalpark Primêre Skool.

VAALPARK. – Gemengde gevoelens is aan die orde van die dag by Vaalpark Primêre Skool. Aan die een kant brand die vreugdevure hoog, maar dan is daar ook die wete dat hul moes afskeid neem van hul skoolfhoof, Karin Baker.

Karin Baker. Foto: Gerda Bruinette

Die skool het tydens Fezile Dabi se jaarlikse akademiese toekennings vir primêre skole in vyf van die sewe kategorieë toekennings behaal.

Dit sluit in ‘n toekenning omdat hul ‘n slaagsyfer van meer as 95% in 2022 vir graad 4-7 behaal het, ‘n eerste plek vir die afdeling Afrikaans en Engels, ‘n tweede plek vir Natuurwetenskap (graad 7), ‘n derde plek vir Tegnologie en ‘n tweede plek vir Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe.

Die kersie op die koek was toe hul aangewys is as die skool wat in 2022 die beste op akademiese gebied presteer het.

“Ek is baie trots op die skool en wat hul vermag het,” sê Karin. “Ek het altyd geweet ons kan hierdie skool die beste skool in die distrik maak, en ons het. Die skool se leerders het verlede jaar ook uitstekend op die sportvelde gevaar. Hierdie toekenning is vir my ‘n absolute hoogtepunt van my loopbaan.”

Saam met die goeie nuus, is daar egter ook hartseer. Karin het sowat ‘n maand gelede gehoor dat die kanker waarvoor sy in 2020 behandeling ontvang het, versprei het.

“Dis nou in fase vier, die medici kan niks meer doen nie,” deel sy die feit met ‘n dapper glimlag.

Daarom het sy besluit om, terwyl sy nog krag en energie het, uit die onderwys te tree en tyd saam met haar man en familie te spandeer.

“Ek het nog altyd 110% gegee by die skool en as ek dit nie meer kan doen nie, dan is dit tyd om die leisels neer te lê.

“Vaalpark Primêr sal altyd ‘n spesiale plek in my hart hê en ek gaan vir solank as wat ek nog kan, ‘n verskil in die gemeenskap maak,” verklaar sy met ‘n glinster in haar oë.

Karin het in 1990 by Primêre Skool Lumiére as ‘n graad twee onderwyseres begin en was tot 2013 by die skool betrokke. Intussen het sy verder studeer en haar honneurs- en meestersgrade voltooi.

Sy is in Junie 2013 as adjunkhoof by Vaalpark Primêr aangestel. Daarna het sy vir lank as hoof afgelos, voordat sy in 2020 amptelik aangestel is.

Karin se laaste dag by die skool was 26 April en die personeel en leerders het vir haar ‘n spesiale afskeid gehou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button