Potjiekosdag vol pret en plesier
VANDERBIJLPARK. - Van potte vol kerriehoender tot by skaap en bees is opgedis by die potjiekosdag waar die kos vir liefdadigheidsorganisasies geskenk is.
VANDERBIJLPARK. – Die potte het vroegdag al begin prut en oor die veld het die reuk van gebraaide uie gehang. Die atmosfeer was gesellig, die musiek voetstamp lekker en rondom elke potjie het die spanne vrolik geskarrel om alles reg te kry.
Dit was weer tyd vir CMM Prokureurs se jaarlikse potjiekompetisie. Hierdie jaar was ekstra spesiaal want dit was ook CMM se 10de verjaardag.
Huisagentskappe van so ver as Sasolburg en Meyerton het Vrydag, 14 April by die Old Vaaltonions Sportklub saamgetrek. Alhoewel daar behoorlik feesgevier is, het die dag ook ‘n goeie doel gehad. Al die gaar kospotte is uiteindelik by liefdadigheidsorganisasies uitgedeel.

Die jaar het elke span behoorlik gekook en aan spangees en speletjies was daar geen tekort nie. Die Macarena is weer afgestof en onder groot gelag uitgevoer.
Die spanne het oor en weer gekuier en vir die oggend is die werkstres bietjie agterweë gelaat.
Om 13:00 het vier beoordelaars, drie van die Rotary Klub van Vanderbijlpark en een van Mooivaal Media, vir ‘n wyle by elke span aangedoen en die potte geproe.
Van ‘n Breyani-pot tot by ‘n Meksikaanse hoenderpot is met flair opgedis. Na groot beraadslaging is die wenners uiteindelik aangewys.

Die span van SA Home Loans het met hul Meksikaanse Tema die prys vir oorspronklikheid opgeraap.
Die prys vir die beste tema en moeite het aan Cas Aucamp Properties gegaan, terwyl die span van Gary Mann Estates en Dormehl Phalane Properties met hul Karnival-tema die prys vir spangees verower het.
Om die beste pot aan te wys het die beoordelaars behoorlik laat kopkrap. Uiteindelik is Rawson Properties as die wenners aangewys met Crystal Bee Properties ‘n kortkop agter.

Die punteverskil was so minimaal dat beide spanne pryse ontvang het. Crystal Bee se span het ‘n Xitsonga Pot gemaak met ‘n hele rits spesiale kruie en speserye.
Livhuwani Mavhungu was die hoofkok aan bewind en sy entoesiasme was aansteeklik. Saam met die beespot was daar ook ‘n gebraaide worspot wat in ‘n spesiale sous gaargemaak is.
Die span van Rawson Properties het met hul Cowboy tema en hul kerriebeespot met stampmielies die beoordelaars oorrompel.
Monique Stewart-Lamprecht het vroegoggend al verklaar hulle pot gaan baie lekker wees, want “ons hou van eet”.

Die Rawsonspan het ook hul eie gelukbringer gehad. Baba Adriaan Rheeder het al die verrigtinge vanuit sy ma, Rozette Rheeder se arms dopgehou.
