Dihan stel nuwe enkelsnit vry
Dihan Schoeman van Meyerton het pas sy nuwe enkelsnit "Vlieg" bekend gestel.
MEYERTON. – Meyerton se ‘tall, dark and handsome’ sanger, Dihan Schoeman, sê sy hart lê in Suid-Afrika en by Afrikaanse musiek.
Dit is waarom die 24-jarige sanger in Januarie, na so ‘n rapsie minder as twee jaar in die Verenigde Koninkryk besluit het om na Suid-Afrika terug te keer, waar hy sy passie kan uitleef.
Sedert sy terugkeer het Dihan nie gras onders sy voete laat groei nie.
Hy het pas sy nuwe enkelsnit Vlieg bekend gestel en die liedjie het al klaar goeie aftrek gekry.
Die woorde van die liedjie kan op verskeie wyses geïnterpreteer word maar vir Dihan gaan dit oor die liefde.
“Die liefde is iets waarvoor mens bang kan wees, want dit is ‘scary’ om iemand te vertrou. Dit gaan oor daai gesprek wat jy met iemand het, waar jy eerlik is met die persoon en sê: ‘Ek sal dit (die liefde) graag saam met jou wil doen, help my om te vlieg.’
“Maar wanneer jy die liefde aspek weglaat, gaan die liedjie (op ‘n ander vlak) ook oor die ondersteuning wat ek van my familie, my vriende en aanhangers af kry,” vertel Dihan.
“Die feit dat almal instaan om my te help beteken dat ek vlieg,” sê hy.
Dihan se deursnit-ondersteuners is vroue ouer as 30 jaar.
Vlieg is ook ‘n klein voorsmakie van dinge wat in die pyplyn is.
Hy werk reeds aan ’n album wat al sy enkelsnitte wat hy vantevore vrygestel het, bevat.
Dihan is besig om al sy vorige liedjies weer op te neem aangesien hy nou meer behendig is met die redigering van die musiek.

Die lang man (hy is 1.86 meter lank) met die innemende persoonlikheid en aansteeklike glimlag sê sy musiekreis het begin toe hy in 2014 tweede in Vaalweekblad se talentkompetisie geëindig het en die geleentheid gekry het om in ‘n studio opgeneem te word.
Kort daarna het sy ouers vir hom ‘n tuisstudio vir sy verjaardag gekoop.
Dit was nie lank voor Dihan sy eie liedjies begin opneem het nie.
Hy gebruik tot vandag toe nog dieselfde mikrofoon en programme.
Dihan sê hy help plaaslike sangers om hul musiek op te neem. Hy wil graag Musiekproduksie studeer om homself te verryk.
Dié oudleerling van die Hoërskool Dr. Malan se liefde vir musiek kom al van kleins af.
Hy het in ‘n musikale huis vol van die kunste grootgeword. Sy ma is die bekende musiek-tannie van die Vaal, Heidi Schoeman, wat deesdae in Plymouth in die Verenigde Koninkryk woon.
Sy gee deesdae wiskundeklasse in Engeland.
Sy pa was ook in die klankbedryf.

Dihan was maar vier jaar oud toe hy vir die eerste keer begin sing en toneelspeel het.
Hy was ook lid van die Colla Voce-koor wat reeds bekendes soos Refentse, Joshua na die Reën en Verona Goslett (van The Voice-faam) opgelewer het.
In 2019 het Dihan die geleentheid gekry om in die reeks Binnelanders te speel.
Hy het die rol van Jacques Oliver, Trudie Ferreira se beste gay vriend, vertolk en het ook die geleentheid gehad om ‘n liedjie van Elandre, ‘n vriend van hom, in die reeks te sing.
Maar toe kom Covid, wat die vermaaklikheidsbedryf op sy kop gedraai het.
Toe die grense na die pandemie weer oopgestel word, het Dihan besluit om sy tasse te pak en in die Verenigide Koninkryk, waar sy ouers en broer nou woon, te gaan kuier.
Gedurende sy tyd oorsee het hy vir ‘n jaar lank gereis en gefokus op mussiekproduksie en ook baie geleer.
Dit is egter Dihan se liefde vir Afrikaanse musiek wat hom laat terugkeer het.

