Familie, vriende en gemeente groet ‘n ware blommemens
Die De Wet-egpaar het nie net diep spore in die Vaaldriehoek se sake- en kulturele kringe getrap nie maar ook 'n groot bydrae op kerklike gebied gelewer
VANDERBIJLPARK. – Wyle mev. Adrie de Wet het nie net gereeld die blommerangskikkings van die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid behartig nie. Met haar kleurryke geaardheid het sy ook innerlik geblom en haar Christenskap met vreugde in die wêreld uitgeleef.
Sy het op 11 April in ‘n private hospitaal in Pretoria beswyk nadat sy ‘n paar maande teen dikdermkanker geveg het. Adrie was die weduwee van die bekende Vaaldriehoekse prokureur, wyle mnr. Chris de Wet, wat sowat drie jaar gelede aan ‘n hartaanval beswyk het.
Die De Wet-egpaar het sedert 1974 in die Vaaldriehoek gewoon, waar mnr. De Wet by De Klerk, Vermaak en Vennote Prokureurs aangesluit en onder andere saam met die latere staatspresident, FW de Klerk, gewerk het. As latere vennoot van die regspraktyk het mnr. De Wet die Vanderbijlparkkantoor omstreeks 1978 geopen. Dit is tot vandag toe een van die bekendste praktyke van sy soort in die Vaaldriehoek.
Die egpaar het nie net diep spore in die Vaaldriehoek se sake- en kulturele kringe getrap nie maar ook ‘n groot bydrae op kerklike gebied gelewer. Hulle was dekades lank lidmate van die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid, waar hulle aktief betrokke was – onder andere by Bybelstudiegroepe en Jeugweke.
Dr. Eon Coetzee, leraar van Suid-gemeente wat verlede Saterdag Adrie se herinneringsdiens gelei het, sê sy was ‘n toonbeeld van ‘n Christen in praktyk. “Sy was ‘n vriendelike en innemende soort mens met ‘n oop hand vir behoeftiges. ‘n Ware blommemens. Haar wens was dat haar begrafnis nie oor haarself moes gaan nie maar dat dit tot eer van die Here moes wees, en so was dit ook. Dit was ‘n viering van dié Christenvrou se lewe,” sê hy.
Een van Adrie se vriendinne, die oud-Vaaldriehoekse digter-skrywer Trienke Laurie, sê sy sal hul kuiergeleenthede, besoeke aan kunsuitstallings en blommeplase, sowel as hul besoeke aan Vader Claerhout en die beeldhoudster Laura nooit vergeet nie. “Ai Adrie, ek gaan jou mis met daardie kreukeltjie op jou neus as jy lag,” sê Trienke.
Adrie word oorleef deur drie dogters, Amanda, Karien en Renata, haar skoonseuns en kleinkinders.
