Local newsNewsNewsSport

Netbalskouspel by Laerskool Risiville

Dit het Woensdag (3 Mei 2023) doele gereën tydens die PEP mini netbalfees by Laerskool Risiville.

MIDVAAL. – Ongeveer 30 netbalspanne, wat o.8, o.9 en o.10-skolespanne van die D7-streek insluit, het aan die plaaslike toernooi deelgeneem.

Dit sluit spanne van Laerskool Risiville, Laerskool Midvaal, Laerskool Vryheidsmonument, Laerskool Suikerbos, Meyerton Primary School, Emmanuel Primary School, Ratanda Primary School, Fundametal Faculty, Rust-ter-Vaal Primary School, Laerskool Sonlandpark en Roshnee Islamic School in, om ‘n paar te noem.

Wedstryde is in helftes van sewe minute verdeel met ‘n halftyd-blaaskans van twee minute tussenin.

Al die reëls van netbal het gegeld.

Zineerah Sujee, ‘n o.9-netbalspelertjie van Roshnee Islamic School, probeer ‘n speler van Laerskool Midvaal verhoed om ‘n doel aan te teken. Foto: Christiaan Cloete

Dit was die derde van ‘n reeks van PEP mini netbalfeeste wat tussen April en Augustus in Gauteng, die Wes-Kaap en Vrystaat gehou word. (Die vorige twee byeenkomste het onderskeidelik op 15 April 2023 by die Zwaanswyk Academy in Retreat in die Wes-Kaap en op 22 April by Laerskool Edleen in Gauteng plaasgevind).

Die mini netbalfeeste word deur PEP in samewerking met Suid-Afrika Skole Netbal (SASN) aangebied vir meisies tussen die ouderdomme van 8 en 10, om hulle op ‘n vroeë ouderdom aan die sport van netbal bloot te stel, sodat hulle van vroeg die basiese aspekte van die sport kan leer en bemeester.

Robijn Venter teken punte vir Laerskool Risiville se o.10-span aan teen Emmanuel Primary School. Foto: Christiaan Cloete

Vanjaar is ‘n groot jaar vir die sport van netbal en ook vir Suid-Afrikaanse netbal met die Vitality Netbal Wêreldbeker wat vanaf 28 Julie tot 6 Augustus in Kaapstad plaasvind.

Nadia Pienaar (Née Uys), ‘n voormalige Protea-netbalspeler en inwoner van die Vaaldriehoek, het tydens ‘n kort toespraak spelers by die toernooi verwelkom en gesê dat hulle die geleentheid het om deel van iets groots te wees.

Ek was nie te lank gelede nie ook ‘n jong meisie met groot drome. Ek het gedroom daarvan om eendag netbal vir Suid-Afrika te speel en om die beste te wees…en hoewel nie almal dieselfde drome het nie, het julle vandag die geleentheid om deel van iets groots te wees…om deel van ‘n span te wees”

Somtyds sal julle wen. Somtyds sal julle verloor. Maar as ‘n span sal julle mekaar aanmoedig, respekteer, waardeer en goeie herinneringe saam te maak,” het sy gesê.

Nadia Pienaar (née Uys), ‘n voormalige Protea-netbalspeler en inwoner van die Vaaldriehoek, spreek jong netbalspelertjies toe tydens die PEP mini netbalfees by Laerskool Risiville. Foto: Christiaan Cloete
Netbalspelers van Laerskool Vryheidsmonument en Emmanuel Primary School probeer almal om die bal te vang. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button