Jukskeispelers hou Vaal se naam hoog
Valies laat die skeie spat by Jukskeitoernooi.
VANDERBIJLPARK. – Die Eike Jukskeiklub het hul goed van hul taak gekwyt by die Senior Burger Jukskeitoernooi wat einde April in Kroonstad plaasgevind het.
Die span, onder leiding van voorsitter Willie van Rensburg en ondervoorsitter Schalk de Kocker, het met verskeie medaljes huis toe gekom.

In spanverband het hul ‘n algehele tweede plek behaal en Willie en Schalk het in die dubbels die skeie laat spat vir goud.
Die Eike spelers se ouderdom wissel van 60 tot 91 jaar en hul sê hulle geniet hul jukskei terdeë.
Nie net kry hul lekker oefening in nie, daar is ook ‘n goeie spangees onder die spelers.
Indien jy ouer as 50 is en graag jou hand aan die tradisionele Suid-Afrikaanse sport wil waag, kontak gerus vir Willie by 083 650 1719 of Schalk by 082 651 7716.
Die Eike spelers oefen Maandae en Donderdaemiddae vanaf 13:30 by Herfsoord se jukskeibane. Hulle nooi beginners en veterane om deel te neem.
“Ons sal enige een vinnig leer. Solank die belangstelling daar is, kan enige een die spel onder die knie kry,” het hul die versekering gegee.
