Local newsNews

‘Biker’ oorleef ‘n 100 meter val, sterf 4 dae later

Wie kan help om Oom Gert in die Kaap te kry vir sy skoonseun se begrafnis?

 

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van die Vaaldriehoek het dalk verlede Sondag, 30 April, op sosiale media kennis geneem van ‘n motorfietsryer, mnr. Hannes Erasmus (48), wat gegly en sowat 100 meter van die Franschhoek-pas naby die Paarl afgetuimel het. Hy het die val wonderbaarlik oorleef en is tydens ‘n reddingsoperasie deur ‘n noodhelikopter uit die pas gered.

Volgens ‘n vriend, Gene Langmann, was Hannes en ‘n biker-vriend die oggend vanuit Franschhoek na Villiersdorp onderweg vir ‘n bikers-ontbyt toe Hannes se motorfiets om ‘n draai gegly en hy by die pas afgestort het. Die pad tussen Villiersdorp en Franschhoek was etlike ure vir verkeer gesluit terwyl reddingwerkers van Lugbystand en Nooddienste hom versigtig uit die pas gedra het. Hy is daarna per ambulans hospitaal toe vervoer.

Hoewel hy vermoedelik sy rug gebreek het en waarskynlik verlam sou wees, het medici aanvanklik gehoop dat hulle sy lewe sou kon red. Hannes het vier dae lank om sy lewe geveg maar het ongelukkig Donderdagmiddag, 4 Mei omstreeks 17:00 sy stryd in die Tygerberg-hospitaal verloor.

Hannes en sy vrou Sandra het nog die afgelope Paasnaweek in Vanderbijlpark by haar bejaarde pa, mnr. Gert van Zyl, en sy vrou Petra gekuier. “Ons sal hom onthou as ‘n liefdevolle, groot man met die mooiste stem en sagste hart,” sê Petra. Hannes en Sandra was sowat 20 jaar getroud en het nie kinders gehad nie. Hy word buiten Sandra ook oorleef deur sy ma en twee susters.

Hannes en mnr. Van Zyl was besonder na aan mekaar – meer soos pa en seun as net skoonfamilie. ‘n Bedroefde mnr. Van Zyl wil bitter graag komende week Hannes se begrafnis in die Kaap bywoon en sy dogter in Bellville gaan bystaan, maar as pensioenaris met ‘n baie klein inkomste is daar eenvoudig nie geld vir ‘n vliegkaartjie nie. Vaalweekblad wil graag probeer help met reëlings om Oom Gert betyds in die Kaap te kry vir die begrafnis. As daar dalk individue of motorfietsklubs is wat ‘n bydrae wil maak vir ‘n vliegkaartjie, kan hulle ‘n EFT-inbetaling doen na Capitec Bank, Rekeninghouer: GP van Zyl, Rekeningnommer: 160 902 9702 (Spaarrekening). Elke bydrae sal help, maak nie saak hoe klein nie.

* Vaalweekblad se innige meegevoel aan Sandra, die Van Zyls en wyle Hannes se ander naasbestaandes.

‘n Spanpoging van Lugbystand en Nooddienste het Hannes verlede Sondag uit die Franschhoek-pas gered nadat hy beheer oor sy motorfiets verloor en 100m by die pas afgetuimel het. Hoewel hy die val oorleef het, het hy vier dae later aan sy beserings beswyk. Foto. Verskaf
Wyle Hannes Erasmus (regs) saam met sy vrou, Sandra, en skoonpa Gert van Zyl van Vanderbijlpark

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button