Die geraamte lyk weer pure skouperd
Luna se storie ruk mens se hart, maar daar is darem 'n gelukkige einde...
VEREENIGING. – Die wit perd met maanhare en stert wat skitterblink in die son, kom rustig nader. Steur hom nie veel aan die mense wat onder die boom vir hom sit en kyk nie.
Hy is op sy eie missie. Gelukkig. Tevrede en sonder enige bekommernis. Moeilik om te glo dis dieselfde perd wat Yvette Wilde in November 2022 na die Be Our Guest Retirement Yard gebring het.
Luna was toe net ‘n geraamte met gekoekte hare in ‘n baie slegte kondisie.

“Begin November was vir my ‘n slegte tyd. Eers het my seun geïmmigreer en kort daarna my dogter. Boonop is een van my honde oorlede. Ek het 8 November gesit en myself jammer kry, toe ‘n vriendin bel en vra of ek nog op soek is na ‘n ouerige trekperd? Jare gelede het ek altyd gesê ek wil nog eendag so ‘n perd hê,” vertel Yvette.
Sy het ‘n versigtige ja laat weet en gereël om die perd eers te sien. Die mense wou ‘n aansienlike bedrag vir die perd hê, maar wou nie hê sy moet hulle by hul huis ontmoet nie.
Uiteindelik is Yvette en haar dogter twee dae later Parys toe. Sy onthou nog haar eerste indrukke van Luna.
“Daar het ‘n geraamte gestaan met sy kop wat amper op die grond hang. Sy hare was gekoek. Hy het gelyk asof hy opgegee het op die lewe.”
Hierna was daar geen omdraai nie, Yvette het geweet sy moet Luna koop. Later het sy uitgevind dat hy ‘n volbloed skouperd is wat van ‘n lang lys wenners afstam.
Ongelukkig het sy vorige eienaars hom erg verwaarloos. “Ek het geweet ons sal stadig moet werk met hom. Luna was gebreek.”
Die eerste dag het die hanteerders hom net geborsel en kos gegee. Yvette het ‘n dieetkundige se hulp ingeroep en die groot missie het begin om Luna vet te voer.

“Die grote perd het onder 400 kg geweeg toe ons hom gekry het. Hy het darem al 120 kg opgetel, maar is steeds 200 kg onder gewig,” beduie Yvette.
Mettertyd is sy tande versorg wat voor heeltemal afgeslyt was soos wat hy probeer het om die gras tussen die klippe te probeer kou.
Sy pote is ook versorg. Luna het gou geleer om sy weg in die middae self na sy stal toe te vind.
Al is hy ‘n vol hings is hy glad nie aggressief nie, net dankbaar om nou weer gelukkig en veilig te wees. Hy steur hom nie veel aan die ander diere op die diere aftreeplaas nie, maar geniet sy groot drukkies in die aande van Yvette baie.
“Dis ‘n groot verrassing dat hy so ‘n mooi perd uitgedraai het,” glimlag Yvette en ‘n mens kan sommer hoor dat sy vir hom lief sou wees al het hy steeds soos ‘n geraamte gelyk.
“Dis ‘n groot verantwoordelikheid wanneer mens diere red,” verduidelik sy. Sy sal weet, op dié diereparadys is al die diere oud en of mank, van die stout donkies altyd op soek na ‘n lekkernye, tot by die baie astrante mank ganse en die twee wees skape wat rustig in die son lê.
“Mense besef nie altyd hoeveel tyd, geduld en geld dit vat om hierdie diere ‘n tuiste te bied nie. ‘n Dier wat fisies en emosioneel mishandel is, het gewoonlik emosionele probleme naas al die fisiese gesondheidsprobleme.
“‘n Mens moet bereid wees om alles in te sit, te hoop vir die beste en hul net lief te hê,” verklaar sy beslis.
Luna skud sy kop asof hy saamstem. Draai dan weg om elders te gaan wei. Hy weet hy kan, hy mag, want hy is uiteindelik tuis.
