Van balletklasse tot skopbokskampioen
Johaleine pak alles met oorgawe aan, die dat sy nou twee jaar in 'n ry as skopbokskampioen in haar gewigsklas gekroon is.
MEYERTON – Johaleine la Grange is onlangs vir die tweede jaar in ‘n ry as die o65kg Junior Skopbokskampioen gekroon.
Sy is tans ‘n matriekleering aan die Hoërskool Dr. Malan en is die afgelope vyf jaar by skopboks betrokke. Voor dit het sy haar hand aan vele dinge gewaag, van balletklasse tot hip-hop en kitaarlesse.
Sy het die dansery baie geniet, maar tydens die Covid pandemie is al die aktiwiteite gestop. Dit was juis gedurende die tyd wat sy en haar ouers gaan stap het. Dis toe dat sy op die skopboksklub afgekom het.
Johaleine se belangstelling is dadelik geprikkel. Sy was lus om iets nuuts aan te pak. Nadat die Covid-19 reisbeperkings gelig is, het sy haar pa, Johan, oortuig om haar na die klub te neem, “net om te kyk.”
Maar, by Meyerton Fighting Systems mag jy nie net kyk nie, jy moet saam oefen. Sy het gou besef dis waar sy hoort en van toe af is daar geen keer aan haar nie.
In haar kamer pryk vele medaljes, trofees en die gekleurde belde wat sy oor die jare verwerf het. Johaleine is tans ‘n blou belt.
Sy het in 2025 vir die eerste keer aan die Nasionale Skopbokskampioenskappe deelgeneem waar sy eerste plekke in Low Kicks en Continuous behaal het. Hierdie jaar het sy as die kampioen in Low Kicks uit die stryd getree.
Volgende jaar gaan sy as au pair werk by voormalige bure van die gesin wat Australië toe emigreer het en natuurlik gaan sy daar by ‘n skopboksklub aansluit. Later wil sy gaan swot.
Presies wat weet sy nog nie, maar sy wil graag ‘n vlugparamedikus word. Met haar traumakursus reeds agter die blad, doen sy eersdaags ook haar noodhulpkursus.
By die skopboksklub is Johaleine die kleinspan se gunsteling. Hulle noem haar Bubbles en skreeu kliphard wanneer sy aan kompetisies deelneem.
Naas skopboks speel sy netbal vir Dokkies se tweede span en dien op die leerlingraad. As enigste dogter in die huis, sy het twee boeties, sluk haar pa swaar aan die feit dat sy volgende jaar Australië toe gaan.
Tussen hom en Madelein bly hul egter haar getrouste ondersteuners en is hul trots op hul talentvolle kampioen.
