Local newsNewsNews

Rubriek: MMA is nie vir sagte outjies nie

Hier word die manne van die muise geskei.

As ’n vreemde vlieënde voorwerp met inwoners van die planeet Skattie onlangs by die Suid-Afrikaanse MMA-nasionale toernooi moes land, sou dit Babelse verwarring veroorsaak het. Nie vanweë die voor die hand liggende kommunikasieprobleme nie, maar eerder oor die aardsvreemde aktiwiteit wat by Mighty Warriors plaasgevind het.

 Die Vaaldriehoek is egter propvol kleurvolle karakters, en vir al wat ons weet, sou die besoekers uit die buitenste ruimte moeiteloos ingepas het. Indien daar verwarring en opgewondenheid by die ruimtewesens sou ontstaan het oor presies watter tipe byeenkoms dit was, sou dit verstaanbaar gewees het.

Wat sou jy dink as twee mans toustaan om by ’n agthoekige hok in te klim om te stoei en mekaar se kennebakke te kielie, terwyl iemand met swart latexhandskoene ’n “bevogtigerroompie” aan jou oogbanke en wange smeer?

Daar was boonop pienk kapsels, poniesterte, tatoeëermerke en mullets wat “besigheid aan die voorkant” skree en “partytjie aan die agterkant” fluister.

Daar word rondom jou gepraat van ’n “rear naked choke,” maar net voordat jy die verkeerde indruk kry, skop die aksie af. Hier is geen sagte outjies nie!

 Ek het altyd geweet die MMAmanne roer mekaar se tee, maar wanneer jy Kimura byroer – ja, Kimura en nie Cremora nie – word die prentjie duideliker. Wanneer jou arm soos ’n hoendervlerkie in ’n Kimura omgebuig word en jou skouer dreig om uit sy potjie te spring, tik jy baie vinnig op die mat om op te gee.

Tussendeur al die vuishoue, toontrappe, skoppe, oophandhoue teen die oorskulpe en gooie, het die puik mediese sorg en voorsorg tydens die toernooi die kollig gesteel.

 Die vegters is ná elke geveg deur die dokters aan diens deeglik ondersoek en behandel. Die vegters se veiligheid is prioriteit nommer een.

’n Verdere les wat ek geleer het, is dat eerste indrukke nie altyd akkuraat is nie. Die Engelse gesegde verduidelik dit die beste: “Don’t judge a book by its cover.”

Moenie die maer outjies onderskat nie. As hy op jou rug spring en jou wurg, gaan jy grootoog en verwilderd op die grond wakker word. So wees maar versigtig wie jy skeef aankyk!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button