VANDERBIJLPARK – As iemand ooit gewonder het “Waar’s Waldo?” en wat het van hom geword, kan jy maar net na die wêreld se rugbyvelde kyk.
Die vollediger antwoord is waarskynlik in die gym om 03:00 besig om te oefen, of besig om wedstryde te ontleed.
Anderins is hy 37 verdiepings bo Hongkong se straatlyn besig om sy volgende groot skuif te beplan. Want Waldo Burker (37), ‘n gebore en getoë Vanderbijlparker het sy fluitjie van die Vaaldriehoek tot in een van die wêreld se mees kompeterende rugby-omgewings geneem.
Waldo se rugbyreis het by die Laerskool Vaalrivier begin waarna hy later ook vir die Hoërskool Vanderbijlpark en Noordwes-Universiteit uitgedraf het.
Sy skeidsregterpad het in 2010 by die Valke-rugbyunie afgeskop. In 2016 breek ’n groot hoogtepunt aan toe hy op Eden Park in Nieu-Seeland die o21 Blues teen Hurricanes geblaas het. Dit was ‘n geleentheid wat sy horisonne verbreed het.
Op daardie stadium was Waldo ’n elektriese onderwyser by die HTS Vereeniging en Vereeniging Gimnasium.
’n Stabiele werk, vaste inkomste en ’n veilige roetine. Maar toe kom Hongkong. Tydens ’n akademieweek word hy raakgesien deur ’n rugbyafrigter van Hongkong en danksy die Valke se voormalige president Alfred Ross kry hy die kans om ’n wedstryd op die A-veld te blaas. Dit was die begin van iets veel groter. Toe die aanbod op die tafel geplaas word was hy opgewonde, maar onseker.
“My pa het gesê ek gooi alles weg vir ’n droom,” vertel hy. “Maar ek het altyd geglo ek sal liewers ’n lewe sonder spyt wees leef as een vol van wat asse?”
Binne ’n week ná hy bedank het, het hy op ’n vliegtuig gesit op pad Hongkong toe.
Die aanpassing was groot. Alles is duur en mense woon in woonstelle wat soos skoenbokse voel. Vir iemand wat van ‘n plaaslewe kom, was dit ’n kultuurskok. Maar dit is ook ’n plek waar mense die reëls eerbiedig en veiligheid vanselfsprekend is.
Openbare vervoer is koning, en almal jaag hul doelwitte met ongelooflike fokus. Wat hy die meeste mis is die oop veld, die lang ure in sy bakkie op pad na ’n wedstryd en sy ouers. “Ek sien hulle min en hulle word ouer. En natuurlik ’n braai.
Nie ’n BBQ nie… ’n Suid-Afrikaanse braai,” sê hy. Vandag sewe jaar later het Hongkong vir Waldo ’n platform geword om te groei. “Hier moet jy jou stempel afdruk.
Die grootste wedstryd wat hy daar geblaas het, was die Hongkongrugbyeindstryd tussen Tigers en Valley Fort. Die Hongkong Sevens, die grootste en oudste sewestoernooi ter wêreld, stel standaarde wat net die beste kan haal.
Hy gee steeds skool en werk met jong spelers terwyl hy sy PhD in Emerging Technologies in Education nastreef. Sy droom vir die toekoms is duidelik. Hy wil op Wêreldrugby se paneel wees as skeidsregter of skeidsregter-afrigter.
Hy gaan in 2027 in Nieu-Seeland sy drome voortsit maar hy sal enige tyd terugkeer na sy vaderland. “Suid-Afrika is die land van melk en heuning,” sê hy. As iemand dus vra “Waar’s Waldo?” is die antwoord eenvoudig. Hy is op pad vorentoe. Nóg ’n drempel, nóg ’n veld en nóg ’n land om sy stempel op te laat.
