Nicoleen het ‘n omgee hart met ‘n kop vir syfers
Van naderby: Nicoleen Harmse met die omgee hart.
VANDERBIJLPARK. – Wat mens eerste opval is haar blink oë en breë glimlag. Nicoleen Harmse straal ‘n rustigheid uit ten spyte van haar stresvolle werk.
Sy bestuur al vir die afgelope 20 jaar haar eie besigheid, Alinca Accounting Services. Sy het ‘n kop vir syfers, maar ‘n hart vir mense.
Nicoleen is ‘n omgee mens wat haar geloof in elke oomblik van die dag uitleef. Sy beskryf haarself as ‘n mense mens.

“Ek wil altyd help, maar ek raak gou emosioneel betrokke,” sug sy. Gelukkig is haar man, Neels daar om seker te maak sy hou balans.
Die afgelope 23 jaar is hy haar rots en die een wat daar is vir haar in krisistye.
“Verlede week het hul oornag by die kantoor ingebreek. My eerste gedagte was om vir Neels te bel. Hy het kalm gebly en alles uitgesorteer,” vertel sy dankbaar.
Sy is gebore en getoë in Vanderbijlpark en was op haar dag in die voormalige Laerskool Voorslag en het later aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer.
Na skool het Nicoleen ‘n diploma in Interne Ouditkunde aan die VUT behaal. Later jare het sy ook haar B.Compt graad aan UNISA voltooi.
Haar grootste rolmodel is Chris van Rensburg by wie sy destyds begin werk het. “Ek het ongelooflik baie by hom geleer in die agt jaar wat ek by PVE ouditeure gewerk het,” onthou sy.
Twintig jaar gelede het sy die groot stap geneem om haar eie besigheid te begin en sedertdien gaan haar rekenmeestersfirma van krag tot krag.
Dan het Nicoleen ook in 2019 met UBee4Me begin. Nadat sy vir jare deel was van die beheerliggaam van die Laerskool Eligwa en daar by die voedselskema betrokke was, het sy gevoel sy wil meer doen.
“Ek het na baie gebed geweet ek moet kinders met mediese behoeftes help. Ek het toe UBee4Me gestig,” verduidelik sy.
Oor die afgelopoe paar jaar het sy al verskeie fondsinsamelingsprojekte geloods wat onder andere ‘n seun gehelp het wat met ‘n longsiekte gebore is, ‘n meisie wat ‘n nieroorplanting moes kry en om Basjan Kok se kolostomie omkeringsoperasie te betaal.

Wanneer sy nie doenig is by die werk of ‘n fondsinsamelingsprojek nie, verkies Nicoleen om tyd saam met haar gesin deur te bring.
Die Harmses het twee kinders. Alicia is tans ‘n student aan die NWU en Ruan is in graad 11.
“Ons familie is baie geheg aan mekaar en is lief om oor en weer te kuier. Mense is belangrik en ons moet kyk na mekaar,” sê sy.
Dan is sy ook ‘n diereliefhebber en hou daarvan om rugby en gholf te kyk.
Afrikaanse musiek lê haar na aan die hart en as sy ‘n gunstelingvakansieplek moet kies, dan is dit Heroldsbaai in die WesKaap.
“Eendag sal ons graag in Heroldsbaai wil aftree,” beduie sy, maar dis eers eendag.
Tans hou haar besigheid en gemeenskapsprojekte haar besig. Sy moet juis nou weer begin organiseer aan UBee4Me se groot Christmas in July projek. Rustig raak is nie nou op die spyskaart nie.
