Local newsNewsNews

Graad vier-leerder in hospitaal na hy by skool se trappe val

Die leerder is in die Vereeniging Kopanong-hospitaal opgeneem nadat hy by die skool se trappe afgeval het.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (26 Mei – 1 Junie 2023) verskyn. Koop ons koerant op Vrydae vir al die jongste plaaslike nuus.

VEREENIGING. – ‘n Graad vier-leerder van Laerskool Vryheidsmonument ontvang tans mediese behandeling vir beserings wat hy opgedoen het nadat hy met die reling van die skool se trappe afgegly en tot onder geval het.

Die voorval het soos wat Vaalweekblad verstaan Dinsdag, 23 Mei tydens klaswisseling gebeur.

Laerskool Vryheidsmonument in Vereeniging. Foto: Christiaan Cloete

Dit het vroeër vandeesweek op sosiale media gegons oor die voorval en ‘n gerug is verspei dat die seun deur ‘n ander leerder van die trappe ‘afgestamp’ is.

Die skool het die gerug egter in ‘n verklaring ontken.

“Die leerder het tydens klaswisseling, met sy tas op sy rug, sonder enige inmenging van enige derde party, teen die trappe se reling afgegly en afgeval tot onder,” skryf mnr. Pieter de Bruyn, hoof van Laerskool Vryheidsmonument, in die verklaring wat aan die Gautengse onderwysdepartement, sowel as Vaalweekblad gestuur is.

Na wat verneem word, is die voorval op video vasgevang en die beeldmateriaal is in die skool se besit. Vaalweekblad het nie toegang tot dié beeldmateriaal gehad nie.

Die skoolhoof, mnr. Pieter de Bruyn, het die leerder en sy ouers sterkte toegewens en gesê die skool bied hul samewerking waar moontlik. Volgens die Bruyn is risiko assessering gedoen om soortgelyke voorvalle te probeer voorkom. Foto: www.laerskoolvryheidsmonument. co.za

Vaalweekblad verstaan die leerder is per ambulans na die Vereeniging Kopanong Hospitaal geneem vir behandeling.

“Die leerder ontvang tans mediese behandeling vir die beserings (wat hy) opgedoen (het),” skryf mnr. De Bruyn in die verklaring.

Vaalweekblad verneem die seun se ouers was blykbaar baie ontsteld oor die voorval en het Woensdag, 24 Mei die skoolhoof ontmoet waartydens feite rondom die voorval deurgegee is.

“Die leerder se ouers en die Onderwysdepartement is in kennis gestel en alle protokol gevolg.

Personeel het reeds ‘n risiko assessering gedoen om soortgelyke voorvalle te probeer voorkom.

Die skool wens ons leerder en sy ouers alle sterkte toe met die herstelproses en bied, sonder benadeling van regte, ons samewerking waar moontlik,” skryf mnr. De Bruyn.

Die verklaring wat verlede week oor die insident uitgereik is. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button