NewsNewsSport

Vroue van Vaal skitter by Comrades

Talle atlete van die Vaaldriehoek het die afgelope naweek aan die moordende Comrades Ultramarathon tussen Pietermaritzburg en Durban deelgeneem en dit is veral die vroue wat in die wedloop geskitter het.

*ArcelorMittal Atletiekklub se Comrades-veteraan Malie van der Walt het ‘n eerste plek in haar ouderdomskategorie (vroue, 60+) behaal.

Malie het vanjaar haar 29ste Comrades in ‘n tyd van 08:42:37 voltooi en sodoende nog ‘n Bill Rowan-medalje verower.

Malie van der Walt, ‘n gesoute Comrades-veteraan van die ArcelorMittal Atletiekklub in Vanderbijlpark, het in haar ouderdomskategorie (vroue, 60+) gewen. Foto: Strava

*Helene van Rooyen, ‘n atleet van Meyerton Atletiekklub, wat verledejaar met haar eerste probeerslag 67ste in die vrouewedloop geëindig het, het hierdie jaar selfs beter gevaar.

Helene het hierdie keer in ‘n fenominale 24ste plek geëindig en was een van slegs 25 vroue wat die wedloop in onder sewe ure kon voltooi.

Haar tyd vir vanjaar se Comrades was 06:57:41 en is ‘n verbetering van meer as ‘n uur op verlede jaar se tyd van 08:10:04.

Helene het vanjaar die gesogte Isavel Roche-Kelly-medalje ingepalm. Die medalje gaan aan vroue wat buite die top 10 klaarmaak en die wedloop in onder 7 uur en 30 minute kan voltooi.

Helene het ook haar Back-to-Back-medalje verdien. Laasgenoemde medalje word toegeken aan nuwelinge wat hul eerste en tweede wedlope agtereenvolgend voltooi.

Helene van Rooyen van Meyerton Atletiekklub het algeheel 24ste van die vroue by vanjaar se Comrades geëindig en was een van slegs 25 vroue wat die wedloop onder sewe ure kon kafdraf. Op die foto staan sy met haar swaarverdiende Isavel Roche-Kelly-medalje en Back-to-Back-medalje. Foto: Strava

*Die Vaaldriehoek spog ook met een van die jongste atlete wat hierdie jaar se wedloop voltooi het.

Marelize la Grange (20), ook van die Meyerton Atletiekklub, het hierdie jaar haar eerste Comrades in ‘n tyd van 11:38:19 voltooi.

Sy het so rapsie voor haar pa Phillip klaargemaak.

Hy het die wedloop in 11:45:27 voltooi.

Marelize la Grange (20), een van die jongste deelnemers by vanjaar se Comrades Marathon met haar pa, Phillip la Grange. Foto: Verskaf

*Weet jy van nog iemand wat ‘n noemenswaardige prestasie of mylpaal by vanjaar se Comrades behaal het? Laat weet ons gerus by christiaan@mooivaal.co.za

Back to top button