Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor lag met 'n traan of lag deur die trane. Soms is dit nodig om die humor raak te sien, selfs wanneer jou wêreld op sy kop keer.

RUBRIEK. – Om te lag wanneer jy nie moet lag nie. Dit gebeur met die meeste mense. Ek hoop. Dit het al baie met my gebeur.

Ontydig en onvanpas met die situasie. Kan nie help nie, ek kon nog altyd selfs deur my trane die humor in ‘n situasie sien.

Daar is min begrafnisse waarop ek al was, waar ek nie êrens ook iets snaaks raakgesien het nie.

Die lewe is mos maar ‘n mengsel van lag en trane en veral waar ‘n persoon met ‘n goeie sin vir humor oorlede is, duik daar selfs by ‘n begrafnis ‘n snaaksigheid op.

Dalk is dit toeval, dalk is dit net my herinneringe aan die persoon. Sal nie weet nie.

Ek onthou jare gelede is ‘n universiteitsvriend oorlede. Die man was baie gewild en geliefd in Potchefstroom en die studente het met alles waarin hul kon Johannesburg toe gery vir sy begrafnis.

Dink ons was drie of vier in my vriendin Karlien se ou motor. Dit was lank voor die dae van GPS en ons van die platteland het van Johannesburg nie veel geweet nie.

Daar uitgekom, het ons darem daar uitgekom. Gehuil het ons baie by die diens en by die begraafplaas, maar gelag die het ons ook.

Vir sy broer se vrou se visnetsykouse, vir Karlien wat benoud raak toe die lykswa agter haar beland en vir die groot verdwaal terug Potch toe.

En ek het geweet Kobus lag saam, want in die lewe het hy altyd maklik en lekker gelag.

‘n Paar jaar later is ‘n jong vriend van my aan kanker oorlede. Hy was maar 20. Ons het in 1994 saam Diensjaar gedoen en met sy afsterwe het die meeste van die span saamgekom en met ‘n geleende kombi die pad gevat Bethlehem toe vir die begrafnis.

Baie gehuil. Maar ook baie gelag, veral toe die kombi langs die pad breek en ‘n dominee uit die Vrystaat ons in die middel van die nag kom red.

Die slag toe my Ouma Bessie begrawe is, het my niggie Bessie oor ‘n klip gestruikel en amper in die graf beland.

Vreeslik van ons, maar ons het gedink dis baie snaaks, al was ons oë dik gehuil.

Nie almal verstaan van lag met ‘n traan nie. Ek onthou hoe iemand my op die dag van my man se afsterwe geskakel het op die landlyn.

Ek en ‘n vriendin was juis besig om oor hom te praat toe die foon in die kamer lui.

Dit was ‘n goeie herinnering en vir die eerste keer daardie dag het ek die foon met ‘n glimlag in my stem geantwoord.

Sal nooit vergeet toe die persoon aan die anderkant vir my vra, hoekom lag jy, ek dog jy was lief vir hom? Eina.

Vlak voor sy begrafnisdiens moes ek hom gaan uitken by die begrafnisondernemer. My niggie se verloofde is saam.

Ernstig en plegtig en met groot hartseer het ons vir die begrafnisondernemer gewag.

Maar, net daar het oorlede Nico se humorsin seker ingeskop, want toe die man sy verskyning maak toe lyk hy pure Genis van Koöperasiestories.

Swart pak, wit das, bewe snor, wenkbroue en al. Ek het gedog ek gaan ‘n aar bars soos ek probeer het om die lag te sluk.

Nou die anderdag gaan maak ek ‘n draai by ‘n vriendin van my wie se man onlangs oorlede is. Ons huil en lag saam oor ‘n beker koffie.

Want raai, sy het dieselfde ding oorgekom. Die begrafnisondernemer het haar ook aan Genis laat dink.

‘n Mens moet kan lag, vir jouself en met ander. Dis belangrik. Dis daardie oomblikke waar jy kan lag wat die oase punte in die woestynpad van die rouproses word.

Want die rouproses gooi vir jou sonder toesteming op ‘n harde pad vol afgronde en slaggate.

‘n Pad wat net jy kan stap. So nou en dan loop jy ‘n medereisiger op die pad raak.

Een wat al bietjie kon kamp opslaan by ‘n waterpunt en dan kan jul saam huil en lag en asemhaal voordat die reis voortgesit word.

En dis goed en dis reg al oorval die lag jou op die vreemdste en donkerste tyd van jou lewe. Jou siel het dit nodig. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button