ELM-7 bly vir eers agter tralies
Tydens die 7 se eerste hofverskyning Maandagmiddag het die meerderheid maskers gedra. Die hofgalery was volgepak.
VANDERBIJLPARK – Die sewe werknemers van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) wat in hegtenis geneem is oor ‘n beweerde elektrisiteitsherkoppelingskema, bly agter tralies.
Hulle het Maandagmiddag vlugtig in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery, korrupsie en die peuter met noodsaaklike infrastruktuur.
David Senekal, Caroline Maduna, Keneth Mahobe, Hlawutelo Baloyi, Pule Masilo, Bafana Maduna en Sibusiso Shabalala staar nou vier Skedule 5-aanklagte in die gesig, wat beteken dat die borgtogaansoek aan strenger vereistes onderworpe sal wees.
Bafana Maduna was glo ‘n voormalige ANC-raadslid van Wyk 18, en David Senekal is die seun van die VF Plus-raadslid, Gerda Senkela, wat daarvoor bekend is om korrupsie in ELM te beveg.
Al sewe was glo werkemers in ELM se Inkomste- en Elektrisiteitsdepartemente.
Volgens die polisieverslag het die Gautengse Taakspan vir Politieke Moorde (PKTT) Vrydag (21 Augustus) eers vyf werknemers na ‘n vasvatoperasie in hegtenis geneem. Die ander twee is die Sondag in hegtenis geneem.
Voorlopige ondersoeke het bevind dat hulle ‘n skema bedryf het waarin hulle hulself teenoor munisipale kliënte valsklik voorgestel het as gemagtigde beamptes wat elektrisiteitstoevoer kon herkoppel wat deur die munisipaliteit gesny is.
Kliënte moes glo verskeie bedrae geld direk in die beskuldigdes se bankrekeninge inbetaal in ruil vir die onwettige herkoppeling van elektrisiteit.
Volgens die klagstaat het die beskuldigdes tussen 5 Februarie 2026 en 20 Februarie 2026 bedrog gepleeg toe Dalken Beyer se elektrisiteitstoevoer herkoppel sou word na ‘n betaling van R150 000.
Die onwettige herkoppeling het tot verdere finansiële verliese vir die munisipaliteit gelei.
Staatsaanklaer Titus Daniso het aangevoer dat meer aanklagte en inhegtenisnemings verwag word soos wat die ondersoek voortgaan.
Van die verdediging se kant af het die hof aansoeke ontvang om die beskuldigdes toe te laat om waarskuwingsverklarings in te dien.
Die saak is uitgestel na 31 Augustus vir ‘n formele borgtogaansoek. Al sewe die beskuldigdes bly tot dan agter tralies.