Local newsNewsNews

Musiek het sy lewe gered

Franz Geldenhuys is onlangs aangewys as die GTCoC se Vaal Kultuur Ambassadeur. Die talentvolle musiekmaestro se lewe was nie altyd maklik nie.

VANDERBIJLPARK. – Om Franz Geldenhuys in een berig vas te vang, is ‘n saak van onmoontlikheid. Daarvoor het die man net te veel fasette.

Dis maklik om die feite te gee. Hy het grootgeword in Vanderbijlpark. Was in Laerskool Kollegepark en het aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer. Sy besondere musiektalent het klein tyd al te voorskyn gekom.

Hy het in graad 6 met orrellesse begin en was kort voor lank een van die jongste orreliste in die land. Gedetermineerd en passievol het hy sy opgang in die musiekwêreld gemaak.

In San Francisco studeer en oral optredes gehad, van Hongarye tot by Oostenryk en Spanje. Vele kore al afgerig, operettes en revues geskryf.

Tans is hy muisekdirekteur by die NG Gemeente Driehoek asook musiekonderwyser by Hoër skool Vaalpark.

Hy tree ook gereeld op by damesoggende en ander spesiale geleenthede.

Franz en Elizna Denpers by van hul Vaalpark Primêr musiekleerlinge. Foto: verskaf

Agter sy naam staan ook die eerste orrel marathon van 12 ure in Vander bijlpark wat hy in 2022 aangepak het om geld in te samel om die kerkorrel, Gunther, te herstel.

Die pad met baie donker dale

Dis die feite. Die prestasiekant. Die blink kant, maar daar is ook ‘n ander kant. Die lewe het ‘n paar skewe en donker paadjies met Franz geloop.

Daar was die keer wat hy deur sewe mans ontvoer en verkrag is. Die kanker diag nose kort daarna.

Die jare wat die kan ker sy lyf geteister het en hy gehuil het oor elke kilogram wat hy verloor het.

“Ek het vir vier jaar ‘n morfiensakkie gedra,” onthou hy daardie verskriklike tyd. Na vier jaar op morfien het hy nie die nodige rehabilitasie ondergaan nie.

Onder die invloed van verkeerde vriende het hy dwelms probeer. “Ek het verkeerde besluite geneem. Ek was op daardie stadium net so moeg. Ek het ‘gecrack’,” beduie hy.

Die dwelms het hom vinnig baasgeraak en Franz het alles verloor. Van sy huis tot sy vriende en sy musiek.

Skielik was hy die bedelaar by die kitskos restaurant. Alles om dwelms in die hande te kry. “Ek het op straat gebly.”

Musiek red sy lewe

Hy onthou hoe hy een dag op die snelweg gaan lê het in die hoop dat hy raakgery sou word. Hy wou doodgaan. “Maar elke trok en motor het my misgery.”

Een motor het gestop. Hy onthou ‘n swartman het uitgeklim en hom in sy motor gehelp.

Edward Britz en Franz Geldenhuys by die sakekamer se gala toekeningsaand. Foto: verskaf

“Tot vandag toe weet ek nie wie die man was nie.” Hy kan nie veel onthou van die rit nie. Wat wel tot sy benewelde brein deurgedring het, was die musiek wat op daardie stadium in die mo tor gespeel het. Dit was Amasing Grace.

“Die man het my by ‘n vulstasie afge laai. Ek het ons predikant gebel en hy het my kom haal en na ‘n rehabilitasiesen trum geneem. Ek onthou ek het net een wens gehad op daardie stadium, ek wou weer ‘n adres hê.”

Dit het ‘n jaar geneem voordat Franz heeltemal onder die juk van dwelms uit gekom het. Maar hy het.

Die musiek leef weer

Stadig maar se ker het hy weer opgestaan en aangegaan. Die musiek in hom het weer geleef. Vandag praat hy oopkop oor die donker tyd van sy lewe wat hy al meer as 18 jaar gelede agter hom gelaat het.

“Ek het baie lesse geleer. Een daarvan was dat ek nooit, maar nooit meer iemand oordeel nie. Die ander dat ek nooit weer iets negatief oor myself spreek nie.”

Hy gee musiekonderrig vir meer as 300 kinders per week, dit sluit sy leerlinge by die musieksentrums en kore in.

“Ek ploeg nou terug en is mal oor my werk. Musiek is ‘n leefstyl en dis ongelooflik om daardie passie en liefde vir musiek na ‘n jonger geslag oor te dra,” beduie Franz.

Self oefen hy steeds elke dag. “‘n Mens moet oefen. Jou talent kan jou net so ver bring. Musiek is so groot, daar is so baie fasette. Ek beoefen musiek al bykans my hele lewe en steeds leer ek elke dag iets nuut.”

Hy gaan selfs so ver as om elke stuk wat sy musiekleerlinge moet oefen ook in te oefen. “Hoe anders kan ek hul help as ek dit nie self kan sing of speel nie?”

Alhoewel hy streng is, glo hy ook daaraan dat sy leerlinge hul musieklesse moet geniet.

Hy lag lekker as hy vertel van die Kook en Geniet resepteboek in sy klas. “Die leerlinge wat nie hul werk geoefen het nie, gaan die boek huis toe kry om vir ons iets te gaan bak.

“Weet jy, vandat ek die boek klas toe gebring het, doen almal skielik hul werk. Niemand wil gaan koek bak nie.”

Franz het ‘n skerp sin vir humor en lag maklik, ook vir homself. “Daar was mos ‘n tyd wat ek by Helpmekaar in Johannesburg musiekonderwyser was.

“Daar verklaar hulle dat al die manne in die personeel moet rugby afrig.

“Gelukkig het hul my die vierde span gegee, man ek het daai seuns oortuig om almal in die skoolkoor ook te sing, want al die mooi meisies was in die koor. Daardie jaar het ek 40 rugby manne in die koor gehad.”

Sy musiek is sy lewe, maar sy huis is sy veilige hawe. Hier kan hy net asem haal en wees.

By die huis saam met sy klavier, vier Yorkies en sy man, Edward Britz is hy op sy gelukkigste. Hy het nie tyd om oor die verlede te tob nie.

“Man, ons is almal mense en bykans almal is gebreekte mense. Elkeen het mos maar ‘n ‘sad’ storie. Die vraag is wat doen jy met daardie storie?”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button