Ek sê maar net…
RUBRIEK - Oor die oggend wat die administratiewe personeel weggeraak het en 'n vinnige terugblik na twee jaar gelede toe ek amper bokveld toe is met Covid.
RUBRIEK. – Betree ek verlede Vrydag die kantoor. Alles lyk soos gewoonlik. Ligte is aan, maar dis onheilspellend stil.
Ek blik na die hoek waar die administratiewe personeel gewoonlik vroeg reeds op hul poste is. Daar is nie ‘n siel in sig nie.
Dis vreemd. Baie vreemd. Hulle is altyd hier. Eerste om in te kom en laaste om te gaan.
Dis die syfermense, die linkerbrein analiste. Hulle hou die kantoor aan die gang.
Laat ons eerlik wees, mens kan nie ‘n mediahuis bedryf met net joernaliste, fotograwe, grafiese ontwerpers en verkoopspersoneel nie.
Dit sal totale chaos wees. Ons is mos die regterbreinbende. Kreatief, sosiaal, altyd op ‘n drafstap, maar sku vir admin, roetines en syfers.
En skielik ontbreek die staatmakers in die kantoor. Ek gaan loer om die hoek, maar niks. Ek soek in die kombuis, die badkamer. Hulle is net weg.
Eindelaas begewe ek my deur die glasdeure na waar produksie en op sekere dae van die redaksie en verkoopspersoneel tuisgaan.
Vind net een van die ontwerpers, Nhlanhla agter haar rekenaar en ‘n advertensieverteenwoordiger Thembi.
Die plek waar ons gewoonlik vergade rings hou is ook leeg. Die twee dames skud kop, hulle weet ook nie waar is die res nie.
Ek begin wonder of moet ek dalk die polisie se Soek en Red eenheid skakel? Ek is seker ek moet ‘n nommer êrens op my foon hê.
Gaan kyk weer in die kombuis. Die ketel is darem nog daar, so ek twyfel of die dames ontvoer is.
Beker koffie in die hand wonder ek of het die wegraping dalk plaasgevind? ‘n Mens weet nooit.
My kollega van Sedibeng Ster, Zach daag op en steek ook verbaas vas. “Where are they?” sy eerste vraag. Vergeet skoon om te groet.
“Ek weet nie,” my antwoord. “Maybe it’s a public holiday and we didn’t receive the memo.”
Ons sit ons rekenaars aan, maar loer kortkort na die leë sitplekke. Zach begin te lag.
“Wat is dit nou?” wil ek dadelik weet. Nee, reken hy, dit voel so al soos toe ons kinders was en jou ouers is nie by die huis nie. Inderdaad, ja. Home alone!
Voordat ons egter enige stout wees streke so sonder ons ouerlike toesig kon uitdink, het die adminspan wel opgedaag.
Blyk toe hulle het ‘n welverdiende spanontbyt gaan nuttig. Met al die syferwerk en probleme wat hul met soveel geduld oplos, dink ek hul kan dit maar kortkort doen.
So van die os op die jas. Is dit nou nie ‘n wonderlike Afrikaanse uitdrukking nie?
Twee jaar gelede het ek na twee weke en ‘n paar dae se stryd met Covid uit ‘n hospitaal gestap. Gestap. Hulle het my daar ingestoot en ek het seker gemaak ek stap uit.
Die personeel wat in daardie dae in die intensiewe sorgeenhede diens gedoen het, verdien meer as net ‘n ontbyt.
Almal se name onthou ek nie. Sal nie eers hul gesigte herken nie. Die was verskuil agter daardie vreeslike maskers en skerms.
Ek onthou wel die hande wat omgee. Die oë wat saampraat. Sal nooit vergeet hoe Lee Anne Olwagen ‘n rekkie uit haar eie hare gehaal het om myne vas te maak nie.
Hoe sy ‘n ander pleister gaan loop soek het om oor ‘n pyp te plak wat my begin stukkend brand het.
Hoe sy en ‘n ander suster saamsaam my hare gewas het. My laat lag het.
“Onthou nou, haal asem soos ‘n wals, 1…2… 3, 1… 2… 3” het sy my beduie en sommer ‘n danspassie of twee gemaak om te demonstreer.
Verby al haar eie moeg en seer, het sy bly omgee. Sy en al die ander wie se name ek nooit gevra het nie.
En dan Susan Wagener. Sy het na my pa gekyk. Pa was in ‘n ander hospitaal as ek. Pa het nie weer daar uitgekom nie. 30 Julie is dit al twee jaar.
In die week stuur sy vir my ‘n boodskap op bakkiesblad. Vertel sy my hoe Pa tot op die laaste grap pies gemaak het en hoe sy by hom geleer het om te lag deur die trane.
Sy skryf: “hy het jokes gecrack oor stupid goed op een van die sadste tye van my lewe … en ons het saggies en seer gelag .. en dit het my gedra om 10 minute, later dae en maande langer te fight vir nog lewens.
“Vandag survive ons nog steeds in ICU met humor … met respek, want daar is net te veel seer om te huil.”
So trap ons elkeen voetspore in ander se lewens. Mis ons die altyd-daar mense as hul die dag skielik nie agter hul rekenaars is nie.
Kry ons op vreemde tye die kans om ‘n verskil in ander se lewens te maak. Pa het. Altyd en tot op die laaste.
Sjoe, en toe daardie boodskap vroegoggend deurkom, toe voel dit Pa self stuur dit aan en dit het getroos. Sela!
