Local newsNews

Gee stres ‘n kishou by Rage Zone

Dit was vet pret en baie lag terwyl glasbottels, stukkende laptops en dies meer behoorlik vergruis is. Die MooiVaal Redaksie-span het krag!

VANDERBIJLPARK – Daar staan MooiVaal se redaksiespan Maandagoggend by Rage Zone Vaal. Gerat vir die dag, maar onseker wat om te verwag. Wat ons ervaar het, het ons wildste drome oortref.

Elsje Vermeulen wys ‘n skootrekenaar wie is baas.. Foto: Ettienne van Rensburg

Met maskers en handskoene het ons die Rage Room aangedurf. Elkeen het sy wapen gekies en een vir een het ons die kans gekry om bottels en ou elektroniese toerusting te slaan dat jy net sien glas trek.

Ettienne van Rensburg en Sifiso Jimta het ‘n ou wasmasjien so getimmer dat geen mens dit meer sal herken nie. Die adrenalien het gevloei en daar was baie kommentaar.

Sifiso Jimta en Ettienne van Rensburg maak gereed om met die wasmasjien af te reken.

Later het ons onder groot gelag probeer byl gooi en boogskiet. Laasgenoemde is toe nie so maklik as wat boogskutters dit laat lyk nie.

Christiaan Cloete: Ek het nog nooit regtig ervaar hoe dit voel om ’n skootrekenaar met ’n voorhamer stukkend te slaan nie. Ek bedoel, natuurlik het ek al daaroor gefantaseer, maar sjoe, nou het ek dit gedoen. Dit was nogal ’n belewenis.

Lede van die redaksiespan is van links: Williene Fuller, Sifiso Jimta, Elsje Smit, Lebo Chaha, Zacharia Nale en Lerato Serero. Foto: Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg: Terapeute gaan eersdaags sonder werk sit. In plaas daarvan om ’n vloermoer in die publiek te gooi of te fantaseer om jou man in sy slaap te versmoor, besoek eerder Rage Zone.

Om goed te breek sonder enige skuldgevoelens is terapeuties. Sien die persoon wat jou woedend maak in jou geestesoog en laat waai. Swaai ’n bofbalkolf, breekyster of ’n piksteel.

Cool DudeChirstiaan Cloete. Foto: Elsje Vermeulen

Om ’n dubbelbalie wasgoedmasjien flenters te slaan was ’n heerlike uitlaatklep. Dit was terapeuties en insiggewend.

Na die spanbou kyk mense met ander oë na sekere redaksielede… Loop katvoet vir die stil kollega. Stille water diepe grond onder draai die duiwel rond! Moet nie uitmis nie! Dit is vet pret!

‘n Gedugte duo, Gerda Bruinette en Elsje Vermeulen. Foto: Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen: Jy weet dalk nie hoe nodig jy dit het om Rage Zone te besoek, totdat jy daar is nie! Vir ‘n wyle vergeet mens van deadlines, en ander uitdagings wat voorlê.

Hier betree jy ‘n wegbreek-wêreld waar jy ‘n masker van jou keuse aansit en daarna jou inner-superhero kans gee om te speel. Wie het nou gedink dit kan so lekker wees om goed stukkend te slaan?

Maar om dit self te doen, is baie beter as om van iemand ander se ondervinding te lees. PS: Ek hoor dames het dit die nodigste om soms van hul opgeboude frustrasies ontslae te raak.

Gerda Bruinette laat drie bottels met een hou trek. Foto: Ettienne van Rensburg

Gerda Bruinette: ‘n Spanbousessie by Vaal Rage Zone was so reg in die kol. Ek het lanklaas so baie gelag. Die oomblik as jy een van daardie maskers opsit, is jy dadelik in jou eie wêreld. Om ‘n bofbalkolf met al jou mag te swaai en dan te sien, en te hoor, hoe drie bottels op een slag disnis geslaan word, is stres-ontlading van ‘n ander aard.

Williene Fuller is reg om haar frustrasies weg te slaan. Foto: Elsje Vermeulen

Volg hulle gerus op Facebook @Rage Zone Vaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button