Dubbele vreugde vir NWU in Merlin-liga
NWU se eerste- en tweedespanne spog vanjaar met die titel as Valke Merlin-liga-kampioene.
VANDERBIJLPARK – Dit was ‘n eindstryd wat aan al die verwagtinge voldoen het … ‘n ware naelbyter waarin niks op die veld oorgehou is nie.
Die tweedespanne van NWU en die Meyerton Knights het Saterdag sake uitgespook vir die gesogte kampioenskapglorie van die Valke Merlin-liga op die studente se tuisveld.
Die kragmeting volg ná ‘n opwindende Donderdagaand-eindstryd waarin die twee klubs se eerstespanne mekaar die stryd aangesê het.
Dié taai affêre het na die gewone speeltyd op ‘n gelykop uitslag van 34-34 geëindig.
Tydens die ekstra 10 minute per kant het die studente egter die oorhand gekry en uiteindelik met 53-37 geseëvier.
Saterdag se kragmeting tussen die tweedespanne het presies dieselfde hoë drama gelewer.
Die studente het eerste bloed getrek, maar daarna het die punteverskil soos ‘n wipplank heen en weer geswaai.
Die Meyerton Knights het alles ingesit, maar die studente het in die laaste minute van die wedstryd rustig gebly onder druk en hul voorsprong van 24-20 suksesvol verdedig totdat die finale fluitjie geblaas het.
Lees die volledige berig en kyk na nog aksiefoto’s in Vrydag se Vaalweekblad.








