Local newsNewsNews

Lekker bederf vir Vrouedag

Die inwoners van Mimi Fouriehof in Vereeniging is die week met 'n spa dag bederf. Lees meer...

VEREENIGING. – Met Vrouedag wat 9 Augustus gevier is, is die inwoners van Mimi Fouriehof reeds Maandag, 7 Augustus met ‘n spadag bederf.

Vroegoggend het ‘n hele skare skoonheidsdeskundige studente en ander vrywilligers reeds geskarrel om alles gereed te kry vir die groot dag.

Maritza van Bosch, Sonika Verwey en Alice de Jager het die groot spa dag vir die inwoners van Mimi Fouriehof gereël. Foto: Verskaf

Die opgewondenheid onder die inwoners was voelbaar. Die dag is georganiseer deur Alice de Jager van die Golden Triangle Chamber of Commerce in samewerking met Sonika Verwey van Sovann Beauty@ Bspoilt en Maritza van Bosch van Soma Sense Hairdressing & Beauty Therapy Institute.

Alice het namens die GTCoC bederfpakkies aan die inwoners uitgedeel, wat onder andere uit voetmatjies, handdoeke, ‘n pakkie lekkergoed en seep bestaan het.

Die inwoners kon kies en keur oor watter behandelings hul eerste mee bederf wou word.

Die meeste was bietjie lugtig om te hoor hul kon vir ‘n massering gaan, maar het ontspan toe hul hoor dis vir hul hande.

Daar was ook manikure en pedikure vir die dames op die spyskaart. Die haarkapperspan het vroegoggend die meeste aftrek gekry. Dis nie aldag dat ‘n dame met ‘n gratis nuwe haarstyl kan spog nie.

Daar is lekker gesels tydens die bederf dag by Mimi Fouriehof in Vereeniging. Foto: Gerda Bruinette

Terwyl die jong studente flink hare gesny en geblaas het, het die tannies tog te lekker met mekaar en die studente gesels.

Soos een bejaarde dame in ‘n rolstoel gesê het: “Ek hou van mense en vandag is hier sommer baie mense.”

“Ag, dis so lekker om iets vir hierdie mense te kan doen,” het Alice met blink oë gesê.

“Mimi Fouriehof is altyd om die verkeerde redes in die nuus. Ja, ons weet die  munisipaliteit gaan nie die gebou regmaak nie. Ja, ons weet hier is baie probleme, maar kyk net hoe gelukkig lyk almal vandag.”

Die inwoners het ook laat weet hulle het ‘n nuwe komitee van vier dames wat nie nonsens vat nie.

Hulle regeer met ‘n ysterhand en sorg dat alles volgens reëls en regulasies geskied.

Almal het die dag geniet en later het selfs van die manne nadergestaan vir ‘n gratis haarsny.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button