Knap gedaan Vaalweekbladspan
Vergun my die geleentheid om bietjie met my kollegas se prestasies te spog. Lees meer
VANDERBIJLPARK. – Die jaarlikse AVBOB FCJ Excellence Awards het weer ‘n goeie oes vir die Vaalweekbladspan opgelewer.
Hierdie jaar was die kompetisie straf met meer as 527 individuele inskrywings van regoor die land.

Vaalweekblad is goed verteenwoordig by die toekenningsaand wat Vrydag, 4 Augustus by die Cape Sun in Kaapstad gehou is.
Sportredakteur Ettienne van Rensburg het ‘n tweede plek behaal vir sy kreatiewe koppe en ‘n derde plek in die afdeling vir beste sportartikels.

Die grootste oes was egter aan die fotografiekant. Hier het Ettienne ‘n tweede plek as fotograaf van die jaar behaal met senior redakteur Elsje Vermeulen kort op sy hakke.

In hierdie kategorie was die onderskeid tussen tweede en derde plek so skraal dat die organiseerders besluit het om ‘n hoogs aangeskrewe sertifikaat uit te reik in plaas van ‘n derde plek.
Ettienne het ook ‘n tweede plek verower in die afdeling sportfotografie met sy besondere sport aksiefoto’s.

Christiaan Cloete het ‘n hoogs aangeskrewe sertifikaat ontvang in die harde nuus fotografie-afdeling, terwyl Elsje ook ‘n hoogs aangeskrewe toekenning ontvang het in die algemene fotografie-afdeling.

Veels geluk aan die span wie se harde werk deur die loop van 2022 beloon is.
Vaalweekblad wens ook vir Liezl Scheepers, redakteur van ons susterkoerant, Parys Gazette geluk met haar eerste plek in die skryf afdeling – Human Interest.

Geluk aan Potchefstroom Herald (ook deel van die MooiVaal-stal) wat ‘n derde plek in die afdeling Koerant van die jaar: Corporate free, fewer than 24 pages, behaal het.

