Local newsNewsNews

Klagtes oor dienslewering oorheers vergadering oor herafbakening van munisipale grense

Die ineenstoriting van dienslewering en infrastruktuur in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit was een van die hoof besprekingspunte tydens 'n vergadering oor die herafbakening van die munisipale grense.

VEREENIGING. – Die vergadering het Dinsdag 15 Augustus 2023 tussen 10:00 en 13:00 by die NG Gemeente Drie Riviere Oos plaasgevind.

Dit volg na ‘n voorstel wat by die afbakeningsraad ingedien is dat die buurte van Drie Riviere Proper en Drie Riviere Oos, wat tans deel van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vorm, by die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit heringedeel word wanner die munisipale grense herafgebaken word.

Jan Pansegrouw lug sy mening tydens die vergadering. Foto: Christiaan Cloete

Talle inwoners van Drie Riviere wil met mag en mening uit die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit wegbreek en deel van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit word juis as gevolg van swak dienslewering.

Drie Riviere (Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munispaliteit) dra tussen R40 en R41 miljoen rand tot die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se inkomste by, tog voel inwoners dat dienslewering nie op standaard is nie.

Die doel van die vergadering was vir die afbakeningsraad om standpunte, vertoë, kommentaar, besware, ondersteuning en motiverings rondom die voorgestelde herafbakening van die munisipale grenslyne te oorweeg.

Daniel Sebaka, ‘n afgevaardigde van die afbakeningsraad, het tydens die vergadering gesê die insette sal deur die afbakeningsraad in ag geneem word wanneer daar besluit word oor die kwessie van die afbakening.

Volgens Daniel Sebaka, ‘n afgevaardigde van die afbakeningsraad, sal inwoners se insette in ag geneem word tydens besluitneming. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Sebaka het die afbakeningsraad baie insette oor die voorgestelde herafbakening van die munisipale grenslyne vanaf inwoners van Drie Riviere ontvang en baie van dit hou verband met die ineestorting van dienslewering in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.

Die proses rakende die voorgestelde herafbakening van die munisipale grense is in 2019 van stapel gestuur en die herafbakening kan moontlik eers in 2024 gefinaliseer word indien die voorstel aanvaar word.

Indien die voorstel aanvaar word sal die nuwe munisipale grense op die dag van die volgende munisipale verkiesing (die volgende een is in 2026) in werking tree.

Dit is egter nie die eerste keer wat so ‘n voorstel ter tafel gelê word nie.

Johan Gericke lewer sy insette tydens die vergadering. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Freddie Peters, wyksraadslid vir Wyk 1 van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en raadslid vir die Sedibeng-distriksraad, is daar al in 1999 al voorgestel dat die munisipale grense herafgebaken word sodat Drie Riviere (oos van ringweg) deel van Midvaal Plaaslike Munisipaliteit word. Die afbakeningsraad het die voorstel destyds ondersteun.

Daar ook in 2006 voorgestel dat Drie Riviere deel van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit word. Hoewel die aansoek goed deur die gemeenskap ondersteun is het di Petere afbakeningsraad nie die voorstel in daardie stadium aanvaar nie.

Inwoners hoop dat die aansoek hierdie keer aanvaar word.

Volgens Freddie Peters, raadslid vir Wyk 1 van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, is dit nie die eerste keer wat so ‘n voorstel deur die afbakeningsraad oorweeg word nie. Foto: Christiaan Cloete

Diana Botha, ‘n inwoner van die buurt, het tydens die vergadering gesê inwoners betaal die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vir dienste wat hulle nie ontvang nie.

Dit is soos om na Something Fishy te gaan, ‘n maaltyd (vir twee) te bestel en dan net een aartappelskyfie te ontvang. Jy stap weg met een aartappelskyfie terwyl jy elke maand vir ‘n maaltyd van twee te besteel.”

Hoe kan ons aanhou om die munisipaliteit te betaal. Daar is geen straatligte nie.
Daar is gate in die paaie. Riool loop in ons drinkwater. Pype werk nie en orals waar jy kyk is daar waterlekke. Verkeersligte is al vir jare gebreek. Daar is nie elektrisiteit nie. Daar is geen dienste nie. Waarvoor betaal ons?”

Dit is om ‘n hele uitrusting te bestel en net ‘n panty te ontvang,” meen Botha.

Diana Botha meen om die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vir dienslewering te betaal is “soos om ‘n hele uitrusting te bestel en net ‘n panty te ontvang”, aangesien die munisipaliteit nie dienste lewer nie. Foto: Christiaan Cloete

Frans Kloppers, wat al sedert 1994 in Drie Riviere bly, sê die buurt van Drie Riviere het oor die jare stadig agteruitgegaan onder die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit terwyl buurte in die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit net floreer het.

Volgens Peters het die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit vir die afgelope 35 versuim om verouderende infrastruktuur op te gradeer en te herstel. Dit sal beteken dat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit na raming R562 miljoen sal moet spandeer om infrastruktuur in Drie Riviere op te gradeer indien dit na die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit oorgedra word.

Dit sal ‘n baie hoë kapitaallas op die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit plaas om Drie Riviere se infrastruktuur te herstel,” sê hy.

Dianne Charles het bewerings van bedrog teenoor die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit rondgeslinger. Foto: Christiaan Cloete

Nie almal is egter ten gunste van die herafbakening van die munisipale grenslyne nie.

Mlungisi Hlongwane, ‘n inwoner van Drie Riviere, meen indien Drie Riviere – die finansiële “rugraat” van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit – uit die munisipaliteit weggeneem word sal dit verreikende gevolge hê en tot onstabiliteit in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit lei.

Shayne Wellman is ook teen die herafbakening van die munisipale grenslyne.Hy meen dat dit die welstand van die breër Emfuleni-gemeenskap nadelig sal raak.

Shayne Wellman meen die insluiting van Drie Riviere by Midvaal gaan die groter Emfuleni-gemeenskap nadelig raak. Foto: Christiaan Cloete
Mlungisi Hlongwane meen die herafbakening van die munisipale grense sal tot onstabiliteit in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit lei. Foto: Christiaan Cloete
Dalene Venter, raadslid vir Drie Riviere, lewer insette tydens die vergadering. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button