Sanger nog in ICU – maar beter
Hy het sy aanhangers groot laat skrik, maar van nou af kan dit net beter gaan.
VEREENIGING. – Die gewilde Afrikaanse sanger, Anton Myburgh is steeds in die intensiewe sorgeenheid in Mediclinic Vereeniging.
Hy het Sondag siek geword en sy verloofde, Elize Visagie het die ambulans ontbied.
Na verskeie toetse is hy Dinsdag teater toe vir ‘n angiogram waar daar gevind is dat een van die are aan die linkerkant van sy hart geblok is.
Die probleem is opgelos met drie balonnetjies en die insit van ʼn stent om die aar oop te hou.
Teen Woensdagoggend, 16 Augustus het Elize laat weet Anton het ʼn goeie nag gehad. Bloeddruk is stabiel en hy sterk goed aan.
“Baie dankie vir al jul gebede,” het sy in ʼn stemboodskap laat weet.
Ons glo en vertrou dat Anton weer spoedig op die been sal wees.
