Local newsNewsNews

Bikers se geseënde Vrouedag

CMA Midvaal het 'n besonderse Vrouedag gereël waar almal met 'n glimlag en 'n boodskap van hoop huis toe is. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – CMA Midvaal het 9 Augustus Vrouedag met oorgawe gevier. Vroue het van vroegdag by die Centurions MC se gronde in Vanderbijlpark bymekaargekom.

In die saal het DJ Ben musiek verskaf, die tafels was mooi getooi en die dames het binne en buite saam gelag, gekuier en sommer net gewees.

Die gasspreker vir die dag Nina Roets-Wide saam met die hooforganiseerder, Jacké Labuschagne.

Met Jacké Labuschagne aan die stuur van sake het almal sitplek ingeneem en CMA Midvaal se presidentsvrou, Zelda Pieterse het almal welkom geheet.

Haar boodskap het Vrouwees vasgevang en veral die “wees meer as die gewone. Koester die geskenk van vrouwees,” het die kol getref.

Daarna het Nina Roets-Wide ‘n kragtige, maar humoristiese getuienis en boodskap gelewer. Nina, ‘n arbeidsterapeut van beroep het vertel hoe sy onverwags op 38 haar man aan die dood afgestaan het.

Sy moes aangaan ter wille van haar twee kinders wat op daardie stadium maar 10 en 5 jaar oud was. As gelowige het sy nog altyd probeer om volgens die Here se wil te leef.

Zelda Pieterse beeld die aanbiddingslied Yshua uit.

Sy was egter nie ‘n bietjie geskok en verbaas toe sy sommer kort na haar man se afsterwe van oral af profetiese woord gekry het dat sy weer sal trou nie.

“Ek het altyd gesê ek gaan net een keer in my lewe trou, maar nadat die soveelste persoon vir my gesê het ek gaan weer trou, het ek dit aanvaar,” vertel sy vandag.

Sy is 11 jaar later getroud met ‘n vriend wat saam met haar in hul kerk se lofprysing en aanbiddingspan musiek gemaak het.

“Ek onthou ek het op ‘n stadium gebid en vir die Here gesê ek wil nie ‘n pastoor se vrou wees nie, ek wil die keer in ‘n wynrooirok trou en dit sal gaaf wees as hy ‘n motorfiets het.”

Die dames het om keurig gedekte tafels gekuier.

Vandag kan sy maar net lag, nie net is haar man’n opgeleide pastoor nie, maar die eerste keer wat hy kom koffie drink het, was dit op sy wynrooi motorfiets.

Haar boodskap van hoop, geloof en vertroue in alle omstandighede het geïnspireer, gemotiveer en die dames laat huil en lag.

Die dames is ook verras met Zelda en haar span wat die Jeruselema gedans het en later ook ‘n sielvolle uitbeelding met vlae van die aanbiddingslied Yshua gedoen het.

Die dag is afgesluit met ‘n lekker ontbyt en groot kuier terwyl DJ Ben die musiek verskaf het.

CMA Midvaal doen hul slagspreuk – Biking with a difference – gestand.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button