Local newsNewsNews

Meyerton-polisie tydens misdaadvergadering geroskam

Polisiemanne in uniform wat drank misbruik, staatsvoertuie wat misbruik word om mense rond te ry, verklarings wat nie geneem word nie, beamptes wat lede van die publiek vloek, onhulpvaardige beamptes in die aanklagkantoor, 'n trae reaksie wanneer misdade plaasvind en toilette wat in so haglike toestand is dat geen mens dit sal wil gebruik nie.

MEYERTON. – Dit is maar ‘n paar van die klagtes wat Woensdagaand (16 Augustus 2023) deur lede van die publiek geopper is tydens ‘n vergadering oor stygende misdaad in die Midvaal-gebied.

Die vergadering is by Laerskool Voorwaarts in Riversdale gehou om stygende misdaadvlakke te bespreek en met ‘n plan van aksie vorendag te kom om misdaad te bekamp.

Nadat lede van die publiek ‘n spreekbeurt gegee is het talle mense klagtes oor die Meyerton-polisie geopper.

Die stasiebevelvoerder van Vereeniging, brigadier Sibongile Ndaba, het nadat sy die klagtes van die publiek gehoor het om verskoning gevra en lede van die publiek aangemoedig om klagtes teen die beamptes aanhangig te maak.

Daar moet baie gedoen word om die foute van die Meyerton-polisie reg te stel. Ek wil julle egter vra om nie jul rug op ons te draai nie. Werk saam met ons om dit wat fout is reg te maak,” het Ndaba gevra.

Volgens Gerrit Viljoen, Midvaal se burgemeesterskomiteelid vir publieke veiligheid en paaie, was daar ‘n beduidende styging in misdaad oor die afgelope paar weke.

Viljoen sê daar was ten minste 15 misdaadverwante voorvalle in die afgelope maand, met meeste van hierdie misdade wat tussen middernag en 04:00 in die oggend plaasvind.

Coert Eramus, die eienaar van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy, het tydens die vergadering bevestig dat daar ‘n toename in misdaad in die gebied ervaar word, veral inbrake, rooftogte en die vergiftiging van honde.

Volgens Viljoen is een van die probleme wat tans ervaar word dat lede van die publiek nie meer misdade by die polisie aanmeld nie.

Ons doen nie wat ons veronderstel is om ons polisie te ondersteun, sodat hulle ons kan help nie,” het Viljoen tydens die vergadering gesê.

Hy het ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om misdade aan te meld.

‘n Misdaadslagoffer kla dat ‘n beampte haar gevloek het nadat sy en haar man verlede Donderdag beroof is. Foto: Christiaan Cloete
‘n Inwoner van Midvaal braak gal oor die plaaslike polisie se houding. Foto: Christiaan Cloete
Mense wat die afgelope paar weke deur misdaad geraak is steek hulle hande op. Foto: Christiaan Cloete
Lede van die polisie maak notas oor inwoners se klagtes. Foto: Christiaan Cloete
Gerrit Viljoen, Midvaal se burgmeesterskomiteelid vir publieke veiligheid en paaie, sê misdaad neem toe, veral tussen middernag en 04:00 in die oggend. Foto: Christiaan Cloete
Coert Eramus, die eienaar van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy, sê daar is ‘n toename in misdaad, veral inbrake, rooftogte en die vergiftiging van honde. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button