Nóg ‘n operasie nodig om krom vingertjie reg te trek
Die Havengas moet nou sowat R51 000 bymekaarmaak om vir 'n opvolgoperasie te betaal om klein Keagan die beste moontlike gebruik van sy hand te gee.
MEYERTON. – Op 2 jaar en 10 maande is Keagan Havenga ‘n woelige klein hartedief wat die graagste met sy trekkertjies en trokkies speel. Dis eers as mens van nader kyk dat jy sien sy linkerhandjie sukkel om die speelgoed raak te vat. Sy ringvinger is afwesig en die middelvinger se punt heeltemal skeef.
Keagan is op 10 Oktober 2020 in Vereeniging gebore – in alle opsigte ‘n perfekte seuntjie, behalwe dat albei handjies se middel- en ringvingers aan mekaar vas was. ‘n Operasie is op 17 Januarie 2022 in ‘n hospitaal in Pretoria uitgevoer om die vingers van mekaar te skei. Sy regterhandjie het goed herstel, maar die linkerhandjie se vingers wou nie genees nie omdat daar te min bloedvloei na sy ringvinger was. Die vingertjie het swart geword en kon nie gered word nie. Op 14 Februarie verlede jaar moes Keagan ‘n dringende opvolgoperasie ondergaan om dit te amputeer.
Sy ouers het nie ‘n mediese fonds nie maar kon vir sy eerste operasie by ‘n private hospitaal betaal met hul eie spaargeld, sowel as skenkings van goedhartige individue en sakeondernemings soos die Gas Monkey Boksburg Foundation.
Vaalweekbladlesers het fluks bygedra en sowat R4 000 vir die tweede operasie ingesamel, en ‘n Vaaldriehoekse prokureur, mnr. Charl Kruger, het die uitstaande bedrag van R35 000 geskenk sodat die amputasie kon voortgaan. Hoewel die amputasie ‘n sukses was, moes nóg ‘n operasie ‘n paar maande later uitgevoer word om ‘n staaldraadjie in Keagan se kromgetrekte middelvingertjie te plaas. Ses weke later was dit duidelik dat die vingertjie wéér skeefgetrek het. ‘n Opvolg-operasie lê nou voor, waartydens ‘n stukkie been in die krom vingertjie ingeplant gaan word om dit reguit te dwing. Die operasie moet so gou as moontlik gedoen word om te verseker dat Keagan as volwassene die beste moontlike gebruik van sy hand sal hê.
Terwyl klein Keagan saggies oor sy nuwe babasussie se koppie streel, is hy nog onbewus van sy ouers se kommer oor sy handjie. Die Havengas moet eers genoeg geld vir die operasie bymekaar maak (sowat R51 000) voordat die nuwe operasie ‘n werklikheid kan word.
Enigiemand wat die gesin geldelik wil bystaan om die prosedure moontlik te maak, kan ‘n inbetaling doen aan Mnr. Kirsten KM Havenga, Tjekrekeningnommer: 10 19 809 941 8, Standard Bank Vereeniging, Takkode 4637. Swift-kode: SBZAZAJJ







